“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matteus 5:13-16).
My tweede bekering het my oë oopgemaak vir die God van verhoudings. Ek het verskuif vanaf ’n professionele kerklike na ’n gewone volgeling van Jesus. Ná my eerste bekering het ek gedink die enigste manier om die Here te dien is om “voltyds” vir Hom as ’n dominee te werk. Ek het besef hierdie idee van voltydse professionele werkers vir die Here ’n mensgemaakte skepping is. Dit het oorgeloop in ’n diep vryheid om die Here net lief te hê. Nou snap ek dat ek voltyds in God se diens ís. En dit het niks te make met my beroep nie.
Die tweede bekering is die Here se pad wat my verander het van ’n geestelike fixer na iemand wat doelbewus aanwesig is in Jesus se Naam. Ek leef nou met die verwagting dat Hy mense sal verander. Daarom staan ek uit die Here se pad sodat Hy kan doen wat net Hy kan doen – om mense met sy liefde aan te raak. Ek is ’n gewone reisgenoot saam met ander op Jesus se pad. Meer as ooit verstaan ek dat ander mense nie lewelose objekte is wat ek moet uitsorteer of fix nie.
My tweede bekering het my aandag vanaf kerk na koninkryk verskuif. Ek is nou nie meer so behep met alles wat móét “werk” in die kerk nie. Of met vrae soos hoe om meer mense in die kerk te kry nie. Ek het geleer God het ’n totaal ander telbord as die een waarmee ek my besig gehou het. Vir Hom gaan dit oor rus aan Jesus se voete en oor impak, nie oor die instandhouding van godsdienstige instellings nie. En impak gebeur veral wanneer ons dáár is tussen die nie-kerklikes, stukkendes, eensames, verlorenes, gieriges, rassiste, kapitaliste, verloorders …
Soos Neels de Jager gesê het: “As die wêreld se pyn skree en common sense sê nee, sal dissipels van God bid en gee.” Ek begryp nou my geloof gaan oor my lig wat in die donker moet skyn en my sout wat smaak elders moet gee. Die kerk wen groot wanneer die kerk oorkant die straat aan diens is.
Here, dankie dat dit genoeg is dat ek ’n gewone volgeling van U kan wees. Help my om elke dag sout en lig in die wêreld te wees, oral waar ek gaan. Amen.