Boodskap vir Vandag

Search

Minder godsdiens in ruil vir meer impak

Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”? Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie. Julle is saam met Christus uit die dood opgewek (Kolossense 2:20-23).

Wat ’n ontdekking om te besef die Here is anders as wat ek dink. Dit is ’n skok én ’n bevryding om te ontdek my tweede bekering is ’n detoks van godsdienstigheid wat my eintlik net vromer sonder groot impak gemaak het. Godsdienstigheid verhoog jou uiterlike vroomheid, maar verlaag jou impak vir God.

In Kolossense 2 se taal maak godsdiens dat jy nie raak nie, smaak en aanroer nie; dit maak jou nie van binne af nuut nie. Jy lyk en klink en gedra jou maar net vromer as party ander. Jy wil net nie sonde sien of daaroor praat nie. Sulke godsdiens verander jou in iemand wat ander gedurig weeg. Op die selfgemaakte skaal van godsdienstigheid waar jy hulle beoordeel op uiterlike dinge, soos klere, kleur, voorkoms, taal en gedrag.

Die goeie nuus is dat God dit glad nie doen nie. Hy kyk na ons harte. Wat ’n vreugde om te ontdek God is nie heeltyd op ons hakke met ’n nuwe lys van tien dinge waaroor ons moet skuldig voel nie. Voordat jy my verkeerd verstaan: Die Here hou niks van sonde nie, maar Hy het doeltreffende medisyne vir sy kinders se sondepyn. Jesus is die groot geneesmiddel. Hy staan stewig in die sonde se pad. God sien Jesus eerste raak wanneer Hy kyk na elkeen wat in Jesus glo. Daarom is Hy oordadig in sy genade aan ons. Jesus was die enigste ware Lig toe die donker gewen het. Hy is meer as genoeg wanneer ek slaap, misluk, struikel, huil, lê, bloei, worstel, wegloop, afdwaal, te min doen en dit al weer te laat doen.

Jesus is nie drie vinnige stappe tot redding of ’n kaartjie hemel toe nie. Nee, Hy is redding, nóú al. Jesus is ’n lewende Persoon. Om Hom te ken is om die ewige lewe persoonlik te ontmoet. Jesus sorteer jou nie vinnig op die godsdienstige vervoerband uit voordat Hy aanbeweeg na ander wat Hy nog moet “regruk” nie. Hy is die lewende Heer wat jou kliphart uitkap en dit vervang met ’n hart van vleis en bloed. Jesus blaas God se asem terug in jou. Hy maak jou nuut! En Jesus is regtig genoeg. Meer as genoeg.

Here Jesus, dankie dat U meer as genoeg is. Dankie dat ek nie opgeskeep hoef te sit met skuldgevoelens of selftevredenheid nie, want dan dink ek ek kan uit eie krag nuut word. Help my om my godsdienstigheid te ruil vir meer impak, want om U te ken is om van binne vernuwe te word. Amen.

Koop ’n Koffie

Ondersteun Christelike inisiatiewe teen die prys van ’n koppie koffie

Maak ’n Dankoffer

Deel jou dankbaarheid deur ’n dankoffer

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap elke dag

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

Bybels vir Almal

Help om God se Woord in elke huis te bring

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.