Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gebed en leef raak makliker … en lekkerder

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” … Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat ’n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ’n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring” (Matteus 13:44, 52).

Die geestelike leier William Temple het eenkeer opgemerk: “When I pray, coincidences happen; when I don’t, they don’t.” Hierdie Goddelike “toevallighede” gebeur al meer tydens ’n tweede bekering, want gebede is nie meer gelyk aan plig, wat die “te min, te laat”-gevoel laat inskop nie.

Nee, gebed kom nie noodwendig makliker nie, maar dit gebeur wel meer spontaan. Nou is my gebede al meer gesprekke met my hemelse Vader. Ja, Hy is heilig en ek is nietig, maar Hy is nogtans die Vader wat naby is. Hy hoor en verhoor. Hy verskoon en kyk by al my gemompel verby tot diep in my hart. Boonop bid die Gees eindeloos beter as wat ek ooit self kan probeer. Dit troos my. Dit maak nuwe deure oop. Dit laat hoop opvlam. Op die mees onverwagte oomblikke word Goddelike genade sigbaar en voelbaar.

Ek het ontdek in die regte lewe is God se skatte om elke hoek en draai te vind, soos Jesus dan ook in Matteus 13 sê. Hemelse skatte lê rond op doodgewone saailande. Tussen gewone mense in normale situasies is die Here se stem hoorbaar. Dis maar net ek wat God se stem probeer inperk tot formele godsdienstige byeenkomste. Ek het gedink ek moet die Here aan die “regte wêreld” gaan bekendstel. Tog is Hy lankal reeds daar – vandat Hy die wêreld geskep het.

Ek hou van Frikkie Coetzee se definisie van dissipelskap: “Dissipelskap is om Jesus daagliks vanuit ’n vars verhouding op opwindende en uitdagende paaie te volg.” Die Here is lankal teenwoordig, skeppend en herskeppend. Ek moet Hom net inhardloop en kyk wat Hy in die regte lewe aan die doen is. En dan moet ek Hom dit agterna doen.

Liewe Vader, partykeer wil ek so graag vir U ’n verskil maak in die wêreld dat ek vergeet dat U lankal reeds daar is waar ek u teenwoordigheid sigbaar probeer maak. Maak my oë oop sodat ek kan sien waarmee U reeds besig is en help my om deel daarvan te word, tot eer van u Naam. Help my om skatte op doodnormale plekke te ontdek. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.