Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dissipelskap-stories: Dissipelskap gee jou wysheid

As die nood my oorval, hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in: U strek u hand uit, u regterhand red my. Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie (Psalm 138:7-8).

Moet ons aangaan? Is dit die moeite werd? So vra ’n klein gemeente in Scarborough mekaar. Hulle sukkel om die gemeente aan die gang te hou sonder ’n predikant, musiekleiers, families en jongmense. Die gemiddelde ouderdom van hulle lidmate is 70. As die gemeente nie kan oorleef nie, besluit die oumensies, kan dit ten minste vrolik sterf. Al die opofferings in die verlede het nie gewerk nie. Miskien is dit tyd om die gemeente vir die Here terug te gee.

Van nou af, besluit hulle, hoef niemand in die gemeente te werk nie, tensy hulle regtig wil. As niemand dit geniet om ná die erediens koffie en tee te maak nie, is daar nie koffie en tee nie. En toe begin die Here werk, soos Hy gewoonlik maak wanneer ons ophou om onsself jammer kry en Hom net geniet vir wie Hy is en ons oop te stel vir wat Hy vir en deur ons wil doen.

’n Klompie lidmate besluit om Sondagaande kos te maak en die mense van die gemeenskap vir ete en ’n kort evangelisasiediens te nooi. Die gemeente begin ’n nasorgsentrum, ’n kleuterdansgroep en … Toe daag die probleme op.

Allerhande mense begin daar aankom. Die bure grom. Die huise in die omgewing is baie geld werd en hulle hou nie van die soort mense wat die gemeente trek nie. Skielik tref ’n bom hulle: Die stadsraad laat weet dat die gemeente moet onmiddellik al hulle “niegodsdienstige aktiwiteite” staak. Net eredienste op Sondagoggende, met Kersfees en Nuwejaar mag aangaan. Anders sal hulle onmiddellik beboet word.

Die gemeente bid. En gaan aan. Want die Here se liefde kan nie ingeperk word nie. Die gemeente is nie bang vir toemaak nie, want die gemeente behoort aan die Here. Die duiwel oorspeel partykeer sy hand. Die boete is groot. So groot dat die media skielik belangstel. ’n TV-stasie maak ’n program oor die gemeente. Tydens ’n onderhoud vlieg die buurman en sy vrou mekaar woes in die hare voor die kamera. Ander vertel hoe die gemeente hulle diep geraak het. Koerantartikels en radio-onderhoude volg. Duisende mense teken ’n petisie vir die gemeente se reg om mense met woord en daad met Jesus se liefde te bedien. Die stadsraad hou vol – kerkwees beteken nét ’n erediens.

Die enigste uitweg is hofsake en groot geld. Of ’n nog groter God. ’n Appèl na die ombudsman lei tot ’n mediasieproses. En skielik is daar uitkoms: Die gemeente kan aanhou diensbaar wees!

Here, dankie dat U voorsien, selfs wanneer die nood my oorval. Help my om selfs wanneer daar groot teenkanting is altyd u liefde uit te leef. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.