Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

CV’s Facebook-profiele en al die res

Nou praat ek soos ’n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook. Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar … As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid! (2 Korintiërs 11:21-30). 

Toe ek weer nadink oor die “iets agter my naam”-sindroom, besef ek dat ek my lewe lank hieraan gemeet is. Dikwels moes ek ’n CV instuur wanneer bepaalde poste beskikbaar was. As ek genooi is om iewers as spreker op te tree, vra die mense ’n CV. CV’s is bedoel om indrukwekkend te wees. As jy vir ’n werk aansoek doen, wen dié met die beste CV’s loshande. As jy iewers praat en die persoon wat jou bekendstel, lees langer aan jou CV as wat jou praatjie is, het jy dit “gemaak”. Jou posisie op die rangorde van die lewe hang vir baie mense van jou CV af.

CV’s is nie die enigste bewys van wat mense agter hulle name het nie. Onthou jy nog die besigheidskaartjies wat mense tot ’n paar jaar gelede gereeld in jou hand gedruk het? As jou besigheidskaartjie nie ’n beknopte samevatting van al jou titels en posisies ingesluit het nie, was jy uit.

Dieselfde geld vandag vir jou Facebookstatus, jou LinkedIn-profiel en jou Twitter-profiel. Navorsing van 2012 wys dat Facebookgebruikers sowat 21% van hulle tyd op hierdie platform daaraan afstaan om hulle profiele by te werk. Die Britse Daily Mail berig op 9 September 2010: “Facebook users are insecure, narcissistic and have low self-esteem.” Dit is die gevolgtrekking van ’n studie in Kanada wat Soraya Mehdizadeh van York University uitgevoer het, en dit kom daarop neer dat die gebruik van Facebook die ekwivalent is daarvan om na jouself in ’n spieël te staar.

Ons leef in ’n nuwe wêreld waar ons persoonlike profiele en prestasies belangriker as ooit geword het. Die ideaalbeelde wat ons van onsself skep, kry ’n eie lewe in ons CV’s en ons profiele op die digitale platforms wat ons gebruik. Natuurlik is dit nie verkeerd om ’n CV of ’n LinkedIn- of Facebook-profiel te hê nie. Die vraag is net, is dit ’n kunsmatige beeld van onsself? Stel ons dit op om onsself goed te laat voel oor alles wat voor en agter ons name staan en oor alles wat ons in die lewe “bereik” het? Verwag ons spesiale behandeling op grond van ons indrukwekkende CV’s en profiele?

Die vraag is: Waaroor roem ons? Oor onsself? Of oor die Here, die Een aan wie alle lof toekom, tot in ewigheid?

Liewe Vader, dankie dat my waarde nie van my CV of sosialemediaprofiele afhang nie. Help my om my identiteit en waarde altyd net in U te vind. Net aan U kom al die lof toe, tot in ewigheid. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.