Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Het Jesus ’n CV?

Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My” (Mark 1:9-11).

Het Jesus ’n CV gehad toe Hy op aarde was? Moes die dissipels Hom elke keer waar Hy opgetree het amptelik bekendstel met ’n ellelange CV? Wou Jesus hê almal moes weet hoe belangrik Hy is voordat Hy begin praat het? Ek dink jy weet reeds wat die antwoord hierop is. Jesus wou nooit iemand beïndruk nie. Sy nederige geboorte en die stil jare in Nasaret tot voor sy openbare optrede beklemtoon dit. God het Jesus se identiteit eers met sy doop in die openbaar bekendgemaak.

Markus 1 beskryf hoe God vanuit die hemel gesê het Jesus is sy geliefde Seun oor wie Hy baie bly is. Maar God het nie op daardie dag ’n lang CV van sy Kind voorgelees nie. Inteendeel, Hy het direk met Jesus gepraat. In twee sinne het God vir Jesus gesê hoeveel vreugde Hy aan sy Vader verskaf. Familietaal dus, nie besigheidstaal of prestasiegedrewe taal nie. Jesus was nie sensasiebehep of magshonger nie. Sy waarde was nie in sulke dinge geleë nie.

Jesus se “CV” was sy diep insig in sy identiteit as die Seun van die ewige God. Ook het Jesus geweet Hy is die Seun van die mens. In drie aankondigings oor sy lyding wat voorlê (Mark 8:31; 9:31; 10:33-34) gebruik Jesus juis hierdie term om die hartklop van sy aardse sending te beskryf. As die Seun van die mens vergewe Jesus sondes, doen Hy wonders en sal Hy eendag terugkeer in die heerlikheid van sy Vader en omring deur al sy engele (Mark 8:38).

Die Johannesevangelie verduidelik vir ons Jesus is God se Gestuurde wat sy Vader se wil tussen ons kom doen (Joh 6:38-40). Dit is sy identiteit. Hy is God se Geliefde en God se Gestuurde. Jesus is die sigbare uitdrukking van God se liefdeshart vir sy wêreld (3:16). Omdat Jesus die betekenis van sy aardse bestaan in sy identiteit as God se geliefde Kind en Gestuurde gevind het, en nie in al sy prestasies of die titels agter sy Naam nie, was Hy vol vrede en vreugde.

Here, dankie dat U my ook sien as u geliefde kind. Help my om altyd my identiteit in hierdie verhouding te vind, en nie my waarde te laat bepaal deur my prestasies of aardse CV nie. Laat ek ook altyd na ander kyk as u geliefde skepsels, ongeag hoe belangrik of onbelangrik die wêreld dink hulle is. Amen. 

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.