Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Hoogtepunt op Jesus se “CV”

Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh 13:12-15).

As ons vir Jesus sou vra wat die hoogtepunte van sy aardse bediening was, buiten sy triomf oor alle magte aan die kruis en die verlossing wat Hy daar vir ons bewerk het (Kol 2:14-15), sou Hy sekerlik verwys na die keer toe Hy sy dissipels se voete gewas het. Dit was nie iets wat vername mense ooit sou doen nie. Om ander se voete te was, was die werk van slawe. Joodse slawe is egter sover moontlik hiervan vrygeskeld deur hulle Joodse eienaars.

Tog gaan Jesus op sy knieë voor sy dissipels om hulle voete te was (Joh 13). Petrus weet dis ondenkbaar dat die Here sulke slawewerk sal verrig, maar Jesus doen dit nogtans omdat Hy weet waarin sy identiteit lê: “Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak” (13:3-4). Jesus het geweet van wie Hy kom en na wie Hy sou terugkeer. Daarom was dit vir Hom geen probleem om as Here ook die werk van ’n slaaf te doen nie.

Jesus wat sy dissipels se voete was, is ’n groot voorbeeld van hoe hierdie nuwe identiteit en leefwyse van sy dissipels gevorm en uitgeleef word. Jesus sê in Johannes 13:13-14 as Hy as Here en Leermeester hulle voete was, moet hulle dit ook vir mekaar doen. Hierin lê die sleutel tot betekenis in die koninkryk van God. Ja, presies hier!

Eers wanneer ons ontdek wie ons in Christus is, raak ons vry om te leef en te dien. Dan verloor ons ons aangeleerde inhibisies. Dan krimp ons soeke na erkenning en belangrikheid. Dan raak ons vry van ons hang-ups en ons nimmereindigende behoeftes aan dinge wat ons dink betekenis aan ons lewe sal gee. Dan tel al die dinge agter ons naam, of die gebrek daaraan, nie meer punte nie.

Here Jesus, dankie dat U alle aansien opgeoffer het om nederig ander se voete te was. Dankie dat U my ook skoon gewas het. Help my om so sterk te leef vanuit my identiteit in U dat ek vry sal wees van my behoefte aan aardse belangrikheid en ware betekenis in die lewe sal vind wanneer ek ander se voete was. Amen. 

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.