“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matt 6:19-21).
In ons tyd draai baie mense se lewe om die groot s-woord – sukses. Sukses is sinoniem met geld, mag en besittings. Dié met die meeste geld en besittings en aansien wen. Tot my teleurstelling het ek agtergekom my geloof het jare lank nie veel verander aan my najaag van dié dinge wat die res van die mense op aarde ook najaag nie. Tot my skok het ek besef ek het geen ander agenda as om hard te werk en suksesvol te wees volgens dieselfde maatstawwe as die res van die mensdom nie. My geluk is grootliks bepaal deur my besittings, en my ongelukkigheid deur die afwesigheid hiervan. Baie lank het ek my lewe gemeet aan die drie “lang y’s” waarvoor ons so graag ly – dit wat ons kry, waarmee ons ry en waar ons bly. Hoe meer van hierdie “lang y”-dinge jy agter jou naam het, hoe beter! Altans, só lui die mite.
Hoekom het my geloof so lank niks hieraan verander nie? Miskien omdat hierdie kwessie nooit in die meeste preke, Bybelstudies of geestelike gesprekke in my omgewing opgeduik het nie. Nooit is ek geleer om deur die regte geloofsbril na my planne en drome te kyk nie. Vele ander gelowiges rondom my het ook maar alte lustig meegedoen aan die wêreld se “lang y”-jaagtogte. Al waaroor die meeste godsdienstiges bekommerd was, was dinge soos die aanslag van popmusiek op jongmense, die duiwel en morele sondes of die “agteruitgang” van die land. Maar vrae oor ons Christelike identiteit was nie ’n groot gesprekspunt nie.
Die regte skuif vir dissipels is egter altyd die een weg van wêreldse sukses af, veral van alles wat gemeet word aan wat ons agter ons naam het, en na ’n impak vir God se koninkryk. Maar dan moet ons eers ons identiteit en nuwe naam in Christus ontdek. Die Here definieer impak nooit in terme van aardse bates nie, maar in terme van geestelike skatte. Vir Hom gaan dit daaroor dat ons ons skatte in sy hemelse bank bêre, daar waar motte en roes dit nie verniel nie en diewe nie inbreek of dit steel nie.
Liewe Vader, dankie dat ek nie slaafs hoef te jaag nie die “lang y”-dinge van die lewe nie. Ek wil my identiteit in U ten volle uitleef. Help my om my aandag aan die regte dinge te gee, aan die hemelse skatte by U, en daarop te fokus om saam met U u koninkryk op aarde uit te bou. Amen.