Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla … “Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? … Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?” … Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Num 14:1-9).
Dit was nogal ’n aha-oomblik vir my om Gregory Berns se boek Iconoclast te lees. In hierdie boek het ek geleer ons is van nature geneig om sekuriteit en veiligheid te kies. Vrees vir die onbekende, onsekerheid en vir openbare mislukking is die oorheersende vrese wat elke volwassene se brein beheer. Ons hou van die bekende: dieselfde roetes werk toe, dieselfde kos, dieselfde klere, dieselfde sitplek in die kerk …
Bekende omstandighede skep geborgenheid. Hiermee is niks verkeerd nie. Alles kan ook nie net die hele tyd verander nie. Dan ly ons spoedig aan informasie-angs, soos Richard Wurman die uitwerking van nimmereindigende veranderings in die samelewing beskryf.
Die probleem begin wanneer ons ons behoefte aan veiligheid met godsdienstigheid verwar. Dan tree daar ’n laertrek-mentaliteit in. Dan dwing ons almal in ons “veilige” godsdienstige bane in en weier om onbekende weë vir die Here te bewandel wat nie vooraf “veilig” verklaar is nie. Dan is dit dieselfde ou dinge oor en oor. Eers as almal soos ons lyk, praat, sing, bid, kerk toe gaan, aantrek en ruik, is ons veilig. Vrees vir die onbekende in ’n godsdienstige gewaad maak waagmoed verbode taal. Dit verban dié wat sulke roetes volg tot aan die rand van die geloofsgemeenskap.
Numeri 13 vertel hoe die Israeliete hulle vrees vir die onbekende tot ’n opstand teen Moses verhef het toe 10 uit die 12 verspieders teruggekeer het met die nuus dat die Beloofde Land ’n gevaarlike plek met reuse en sterk stede is. Net daar wou die volk terugdraai na Egipte, daar waar hulle geslaan, mishandel en verguis is. Dit is presies hoe vrees werk. Vrees maak dat die heel slegste bekende situasie jou enigste “veilige” staanplek word. Dan sluk jy maar die ou bekende met al sy twak, moeilikheid en doodsheid eerder as dat jy die waagstuk aanpak om die Beloofde Land binne te val – daar waar die Here se lewe en oorvloed wag.
Vader, skep in my ’n dapper hart wat bereid is om risiko’s vir U te waag. Ek wil nooit as gevolg van vrees terugkeer na slawerny wanneer U vir my die beste, die Beloofde Land, beplan nie. Help my om u wil te ken en dit met waagmoed uit te voer. Amen.