Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geloofsrisiko’s

“Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Jos 1:9).

Iemand het geskryf: “You can be obedient to God without truly loving Him, but never the other way round.”

Daar is ’n risiko verbonde aan die ontdekking van jou Godgegewe identiteit. Dit vra dat jy onbekende terrein sal binnestap saam met Moses, Josua en Kaleb. Dit vra dat jy by die reuse sal verbykyk na ons groot God wat agter hulle uittroon. Dit vra dat jy die geloof sal hê om sonder ’n padkaart agter die Een aan te stap wat self die Weg is. Om jou identiteit te vind vra dat jy jou vertroue in jou besittings, jou spaarrekening, jou kwalifikasies en jou goeie beplanning sal laat vaar om die Here met jou ganse lewe te vertrou.

  • Geloofsrisiko’s maak dat jy die Here dien as die enigste padkaart, pad en finale eindbestemming.
  • Geloofsrisiko’s bring ’n dramatiese verskuiwing in jou verstaan van Jesus. Jy sien Hom nou as die Een wat self die pad is en wat saam met jou op jou pad stap.
  • Geloofsrisiko’s is die waagmoed om jou nie meer te bekommer oor hoe jou lewenspad vorentoe lyk of wat jy nog alles moet bereik nie.

Hierdie waagmoed maak jou geloof vry sodat jy nie meer jou pad vorentoe self haarfyn hoef te ken of te beplan nie. Wat saak maak, is dat jy weet Wie die pad vorentoe is. Waagmoed is om nie meer net van jou of ander se strategiese beplannings afhanklik te wees om die onbekende terrein te probeer gelykmaak voordat jy die toekoms instap nie, maar om te weet die Een wat die toekoms is en wat die toekoms in sy hande vashou, stap saam met jou.

Wanneer jy dít weet, is jy bereid om geloofsrisiko’s te waag, net soos Josua toe hy uiteindelik die Israeliete die Beloofde Land ingelei het. God self het vir hom die opdrag gegee: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” Hierdie belofte is ook aan ons gerig. Daarom hoef ook ons nie te skrik wanneer ons die onbekende toekoms met sy geloofsrisiko’s betree nie.

Here, U is die weg, die waarheid en die lewe. Gee vir my die waagmoed om met U as my enigste padkaart, pad en eindbestemming te waag om geloofsrisiko’s na die Beloofde Land aan te pak. Dankie dat ek kan weet dat ek nooit die onbekende alleen ingaan nie, want U is altyd by my. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.