Die verkenners het … aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot …” Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons” (Num 13:26-32).
Min mense bevind hulle op die Here se waagmoedige pad. Die meerderheid kies vir die pad terug na veiligheid en sekuriteit. Trouens, as Moses die volk laat stem het die dag toe die 12 verspieders teruggekeer het met ’n meerderheidsverslag en ’n minderheidsverslag, sou dit min of meer ’n paar miljoen teen drie gewees het dat die volk moes terugkeer na Egipte.
Natuurlik is daar plek vir stem en vir demokratiese besluitneming en vir luister na die meerderheid, maar as dit die manier is waarop besluite altyd geneem word, veral in geloofskringe, flikker daar rooi ligte. Baie gelowiges kies doelbewus vir veilige godsdienstige gemaksones waar hulle die Here “ongesteurd” op bekende paaie kan dien. Tog is die Beloofde Land onbekende en ongekarteerde terrein wat trail blazers of verspieders vra wat die waagmoed het om saam met Jesus daarheen te loop.
Geloofsmoed is om te weet die pad vorentoe is onbekend, maar nie die Here nie. Dit vra dat ons agter Hom sal aanstap en Hom sal vertrou om daardie toekoms tree vir tree te laat ontvou. Mense met geloofsmoed kyk hulle vrese in die oë. Hulle sien anders as die res. Terwyl baie gelowiges eerste die moeilikheid raaksien, sien gelowiges met waagmoed nuwe geleenthede raak. Terwyl almal sê dis klaar met ons, hoor hulle in die geloof hoe sagte stemme die woede laat bedaar en hoe ’n paar stukkies brood honger mense help. En dan gaan doen hulle dit. Hulle steek ander aan met hulle entoesiasme, visie en moed om saam met hulle nuwe treë in Jesus se Naam te waag. Hulle weet die Here se mense is nie gedoem tot ’n lewe van rondswerf in die woestyn nie. Of nog erger, tot ’n terugkeer na die farao se Egipte.
Hulle weet die grootste vrees van mense is die vrees vir die onbekende en mislukking. Om anders te dink en anders te doen, vra moed. Maar presies dit is nodig as ons Jesus enduit wil volg.
Here, help my om u wil te ken en dapper genoeg te wees om anders te dink en te doen as die meerderheid. Dankie dat ek kan weet al is die toekoms onbekend, U is nie en U is altyd by my. Amen.