Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

“Bigger and better”

Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek … Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood (Filippense 3:7-11).

Ons nuwe naam en identiteit is geanker in Jesus en sy twee woorde: “Volg My!” Ons is navolgers van Christus vanaf die eerste oomblik dat Hy ons roep. Ons word dit nie eers later in ons lewe nie. Jesus roep slegs dissipels. Daar bestaan nie iets soos “gewone” Christene wat Jesus deeltyds navolg en dan ’n groepie voltydse dissipels nie. Ook roep Jesus ons nie in die eerste plek om ’n klomp dinge vir Hom te doen nie. Hy roep ons agter Hom aan. Hy sê ook nie waarheen nie. Jesus sê net agter Wie aan! Hy nooi ons na ’n voltydse verhouding met Hom. Hy vra van ons om onsself te verloor om Hom te vind.

In een van my gunsteling boeke Love does: Discover a secretly incredible life in an ordinary world vertel Goff hoe hy en sy seuntjie die speletjie “Bigger and better” gespeel het. Dit begin met iets van min waarde, soos ’n 20 c-stuk. Jy klop aan iemand se deur en vra of hulle iets meer waardevol wil verruil vir die 20 c. Dan neem jy dit en ruil dit nogmaals vir iets met hoër waarde. Die doel van dié speletjie is dat jy eindig met iets meer waardevol as waarmee jy begin het.

Goff sê Jesus speel graag “Bigger and better” met ons. Maar hierdie speletjie gaan nie oor meer besittings nie. Hy daag ons juis uit om dit wat die wêreld as waardevol ag om te ruil vir sy weergawe van “bigger and better”. In Goff se woorde vra Jesus van ons: “Will you take what you think defines you, leave it behind, and let Me define who you are instead?” Die gevolg is dat alles wat ons tot op daardie oomblik beheer het, skielik die houvas op ons lewe verloor. Ons nimmereindigende dam van behoeftes loop leeg teen Jesus. Hy is bigger and better. Hy is alles.

Jesus staan voor ons elkeen se deur en klop. Hy is bereid om ons 20 c-geloof te neem en dit te ruil vir ’n lewe van vryheid en vreugde saam met Hom. Alles wat ons het in ruil vir Hom. Dis presies wat Paulus in Filippense 3 skryf. Alles verwater en verval in die lig van Jesus. In Hom is ons nuwe identiteit gesetel.

Here, dankie dat U bereid is om my klein 20 c-geloof te neem en dit te ruil vir ’n lewe van vreugde en vryheid saam met U. Ek wil nie ’n “deeltydse Christen”-mentaliteit hê nie. Help my om my hele lewe en identiteit in U te vind. Amen. 

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.