Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan (Kolossense 3:23-24).
Wanneer ek ook al in Europa kom, verkyk ek my aan die ou geboue. Veral aan die ou katedrale. Bouers het soms tot honderd jaar en selfs langer aan party van die Europese katedrale gewerk. Hulle het dikwels geweet hulle sou nooit hulle voltooide handewerk sien staan nie. Dit laat my dink aan die storie van iemand wat vir ’n vakman by ’n ou katedraal gevra het hoekom hy soveel moeite doen om ’n Bybelfiguur eenkant onder ’n afdak uit te kerf. Hy het geantwoord: “Al sien geen mens my handewerke raak nie, God sien dit wel.”
Op Christus se telbord maak ander dinge saak as op die wêreld se telbord. Jesus vra of ons voor Hom buig as ons Heer. Hy vra of ons ’n hart het vir ander mense en vir sy stukkende skepping. Hy vra of ons ons gerief sal opoffer om vir Hom en ander te leef. Op die Here se telbord is dít die vrae wat tel om te bepaal of ons “iets” met ons lewe doen. Ons kan immers net reg dien en reg leef as ons ons nuwe identiteit en vryheid in Jesus self vind. Slegs as ons diep oortuig is ons is kinders van God sal ons vry wees van ander vals identiteite wat ons aanhang en wat verbind is aan ons status, besittings, posisie en erkenning.
Dit is vir ons dikwels so moeilik om iets vir die Here of vir iemand anders te doen sonder om erkenning te verwag. Ons linkerhand vergeet moeilik van wat ons regterhand doen. Die geneesmiddel vir hierdie aandagsugtigheid is om weer ’n katedraalbouer vir die Here te word. Alles wat ons doen, doen ons nét vir Hom. Sy goedkeuring is al wat tel. Ons is dissipels vir Een.
Here, help my om te fokus op my roeping en my identiteit in U eerder as op aardse sukses. U is die enigste Een wie se opinie tel. Ek wil alles wat ek doen, doen na my beste vermoë, want ek doen dit vir U. Amen.