Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geen professionele ruimte nie

Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Markus 10:42-45).

As ons die familiekarakter van die kerk snap, sal ons die kerk nie sien as ’n amptelike instelling met bestuursprosesse wat vir winsgedrewe maatskappye ontwikkel is nie. Toe ek onlangs weer kritiek hieroor moes aanhoor, antwoord ek dat die weglaat van kerklike titels tog nie onbelangrik kan wees as Jesus self die moeite gedoen het om die gebruik van eretitels in Matteus 23 nietig te verklaar nie.

Tog snaaks dat mense sekere woorde van Jesus ernstig neem en ander ooglopend ignoreer. Matteus 23 is nie net ’n stukkie vroom advies wat ons ernstig kan neem as ons wil, of oorbodig kan verklaar as dit ons nie pas nie. Jesus sê openlik in Matteus 23 eretitels is nie gepas in sy aardse familie nie. Ons het net een Vader en een Here wat eretitels verdien. Alle gelowiges is gelyk. Natuurlik moet ons met respek na mekaar luister. Maar dieselfde respek geld ook vir elke ander mens met wie ons te doen kry, groot en klein, ryk en arm.

Titels skep afstand tussen mense. Dit maak dat sekere mense belangriker lyk as ander. In die kerk is daar geen plek vir celebrities, gesiene mense of groot ego’s nie. Veral wanneer geestelike leiers daarop aandring om op hulle titels aangespreek te word, raak dit ’n probleem. Leiers in God se aardse familie het nie titels of eer of erkenning nodig om te doen waarvoor God hulle geroep het nie – om ander toe te rus en te dien.

Die regte plek vir leiers – en vir almal in die familie – is agter in die ry, as ek Jesus reg verstaan in Markus 10:42-45. Dáár hou Jesus vir ons almal plek. Of ons nou preek, leer, dien of die kerkgebou skoonmaak, ons almal het dieselfde roeping: om God te verheerlik en mekaar in die geloof op te bou.

Here, aan U kom al die eer toe. Help my om nie eer by mense te soek nie, maar om in diens aan U en ander bereid te wees om heel agter in die ry te staan. Ek wil dien eerder as om gedien te word, net soos U. Amen. 

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.