“Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:34-35).
In ’n gesonde familie voel jy tuis en kan jy net jouself wees. Jy behoort daar. Gesonde families leef naby aan mekaar. Hulle sing. Hulle speel. Hulle het tyd vir feesvier, saamwees en lekker dinge saamdoen. Sulke families geniet mekaar en die lewe. As iemand in so ’n familie presteer, vier almal saam fees. As iemand seerkry, is hulle daar vir mekaar. Hulle dien mekaar. Hulle praat hulle verskille uit en hulle is lief vir mekaar.
Gesonde families hou saam vakansie, gaan koop selfs saam kruideniersware en raak saam betrokke by ander se nood. Hulle het nie amptelike verslae of kommissies van ondersoek of selfs amptelike huisvergaderings nodig om gelukkig en gesond te wees nie. Hulle is ’n regte familie wat mekaar vertrou, saam leef, dink en doen, saam bid en vir mekaar bid. Hulle verdedig mekaar se integriteit en bou mekaar op. Hulle koester mekaar se teenwoordigheid.
As die Here ons sy familie noem, moet die kerk soos ’n familie leef, en nie soos ’n amptelike instelling nie. Ons moet meer besorgd wees oor God se koninkryk as oor ons eie oorlewing. Ons leef nie ongestruktureerd of sonder planne nie, maar ons word ook nie nét gekenmerk deur strategiese beplannings of onpersoonlike aktiwiteite nie.
Wanneer die Here se mense soos ’n familie leef, seëvier liefde, nabyheid, warmte en vertroue altyd. Dan wen omgee en diens, nie eiebelang nie.
Ons Vader, help ons om soos ’n regte familie te leef in ons verhoudings met mekaar. Help ons om ons naaste eerste te stel, hulle teenwoordigheid te geniet en hulle met liefde en omgee te dien, want dit is juis aan hierdie liefde dat ander sal weet ons is u dissipels. Amen.