Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Deel van ’n splinternuwe familie

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook … Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê … Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:3-17).

Toe mense in Markus 3 vir Jesus sê sy ma en broers wag op Hom, antwoord Hy dat sy familie dié is wat die wil van God doen. Húlle is sy ma, broers en susters.

Die Nuwe Testament wemel van familietaal. Lees gerus 1 Johannes. Daar hoor ons God is ons Vader. Ons is sy geliefde kinders, want Jesus het ons deel van hierdie nuwe familie gemaak (5:1). In 3:9 lees ons dat God se saad, sy karakter, in al sy kinders bly (1953-vertaling). Daarom het ons nou die ewige lewe (5:11). Ook leef ons in die lig (1:7) omdat God lig is.

In die Here se familie gebeur dinge anders. Omdat God se DNS in ons oorgeplant is, hou ons niks van dinge wat nie sy goedkeuring wegdra nie (2:5). Ons beywer ons om te leef soos Jesus geleef het (2:6). Gehoorsaamheid aan die Vader is ons hartklop. Prakties gebeur hierdie nuwe lewe in God se familie só:

  • Gebed: God se kinders het vrye toegang tot Hom deur Jesus. Wanneer ons volgens sy wil bid, sal ons gebede verhoor word (5:14-15).
  • Liefde: Gelowiges se vernaamste opdrag is om God en mekaar lief te hê (3:11). Anders verloën ons alles waarvoor God staan. Dan leef ons ’n leuen (4:7-10). Liefde is onafskeidbaar van gehoorsaamheid aan God (5:2). Gehoorsaamheid sonder liefde is wettisisme, maar liefde sonder gehoorsaamheid is wanorde. Gehoorsaamheid is om mekaar lief te hê (4:19-21), nie bloot om derduisende voorskrifte na te kom nie.
  • Onselfsugtige opoffering: Kinders van God se rolmodel is Jesus. Net soos Hy sy lewe vir ons afgelê het, word ons as gelowiges opgeroep om ons lewe vir mekaar af te lê (3:16). In 3:16-17 vind ons die praktiese toepassing van agape, waar Jesus se nederige lewe en dood die kompas is. Agape is nie maar net ’n warm gevoel nie, maar ’n diep ontferming wat maak dat kinders van God selfs hulle lewe vir Hom en vir mekaar sal opoffer. Daarom dat agape ook vra dat ons ons kos en besittings met medegelowiges in nood sal deel (3:17), dat ons nie ons harte sal sluit vir ander familielede van God wat gebrek ly nie. Die liefde van God is immers in ons.

Liewe Vader, dankie vir u onvoorwaardelike en selfopofferende liefde vir my. Help my om my broers en susters in die geloof net so lief te hê en laat daardie liefde prakties gestalte kry in my daaglikse lewe. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.