Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Familie op die voorstoep

Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Johannes 5:1-5).

Toe ek ’n kind was, was my oupa een van my helde. Wanneer ek vakansies by hulle gaan kuier het, het ons graag op my ouma se blinkgepoleerde voorstoep gesit. Oor koppies lekker koffie het ons twee oor Heidelberg se rante gestaar en diep dinge gepraat. Ek onthou ook spesiale oomblikke in my ouerhuis, soos wanneer my pa voor slaaptyd vir ons elkeen ’n beker stomende warmsjokolade gemaak het. Of my ma wat kom kyk het of ons warm toegemaak is. Of wanneer ons as gesin saam in die aand gaan stap en sterre kyk het.

Dink net wat sal gebeur as ons ons verhoudings met mekaar doelbewus begin inrig as voorstoepe met stomende bekers koffie en sorgvrye kuiers. Te min het ek die kerk hiermee vereenselwig. Wanneer die “broers en susters” in die week amptelik saamgekom het, was dit met ’n formele agenda in die hand. Dan was lief en leed maar net een punt met “plastiekkoffie” tydens pouse. Of koue vleispasteitjies waarvan die kors gedurig aan my tande vasgesit het. Nie veel vreugde hier nie! Te veel Sondae in die kerk het soos slawerny in Egipte gevoel en nie soos voorstoepe waar ons as familie van die Here gehaltetyd saam met Hom en mekaar kon deurbring nie. Hoe anders sal dit nie wees nie as ons regtig mekaar op die hande begin dra en sommer net saamkuier in die Here se Naam, sonder al die eindelose vergaderings en programme.

Gesonde families weet wat om te doen; gesonde kerke ook. Die regte soort saamwees lei spontaan tot die opbou van ons geloof en die daarwees vir ander wat die Here nog nie ken nie. Groei sal vanself gebeur as ons toelaat dat die Gees se wind deur ons begin waai.

Die regte antwoorde op die lewe se groot vrae is dikwels op ons voorstoep te vind. Ons soek dit net te dikwels in vergaderings en dokumente. Die lewe van Christus gebeur sommer reg voor ons. Dis so eenvoudig soos om by Jesus se voete te kom rus. Om die kerk van die Here as ’n gelukkige, gesonde en nuwe familie te sien en te beleef.

Here, help my om werklik ander as deel van my familie te behandel. Laat ons verhoudings ander so welkom laat voel dat groei kan plaasvind en ons U, mekaar en die lewe sorgvry kan geniet. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.