Toe antwoord Jonatan: “Nee, as ek seker weet dat my pa klaar besluit het om jou dood te maak, sal ek jou dit beslis laat weet.” Dawid sê toe vir Jonatan: “Wie sal vir my kom sê of jou pa jou ’n harde antwoord gegee het?” Jonatan het daarna vir Dawid gesê: “Kom ons gaan uit veld toe.” Hulle twee het veld toe gegaan, en Jonatan het vir Dawid gesê: “So seker as die Here die God van Israel leef, ek sal my pa môre of oormôre pols. Hy sal gunstig gestem wees teenoor jou. So nie, sal ek na jou toe stuur en dit in die geheim aan jou bekend maak” (1 Samuel 20:9-12).
Nou die dag het ek iets moois van familiewees binne die kerk beleef. Dit was toe ek agterkom ’n vriend het my integriteit verdedig. ’n Godsdienstige heksejagter het onwaarhede oor my kwytgeraak. My vriend het hom aangevat. Toe ek hom hiervoor bedank, was hy uit die veld geslaan. “Jy hoef nie dankie te sê nie. Dis mos wat ons vir mekaar doen in hierdie familie,” het hy geantwoord. Dit het ’n diep indruk op my gemaak.
Toe onthou ek dat Efesiërs 6, waar Paulus vertel van die Here se wapenrusting wat ons moet aantrek, geen oorlogsklere vermeld wat ons rug beskerm nie. Ons moet dit vir mekaar doen. Ons moet mekaar se rug beskerm en mekaar se naam hoog hou as ander mense dit met modder gooi. Anders is ons net mooiweersfamilie.
I’ve got your back! Ek sal jou rug beskerm. Kan enigiemand meer betekenisvolle woorde as dit vir jou sê? Dit is wat gelowiges vir mekaar doen, soos Jonatan dit vir Dawid gedoen het toe Saul vir Dawid wou doodmaak. Keer op keer het Jonatan in die pad gaan staan van sy pa se jaloesie en woede. Was dit nie vir die feit dat hy sy vriend Dawid se rug beskerm het in sy afwesigheid nie, was Dawid sekerlik al dood.
Vriende doen dit vir mekaar. Hulle beskerm mekaar en red mekaar. Hulle staan in die pad van ander wat hulle vriende wil leed aandoen. Die heel grootste liefde wat enigiemand ooit vir hulle vriende kan hê, is om hulle lewe vir hulle af te lê. So sê Jesus. Daarom dat Hy ons Vriend is. Ook noem Jesus ons sy vriende as ons alles doen wat Hy vir ons sê.
Here, help my om ’n getroue vriend soos Jonatan te wees, wat my vriende en familie se rug beskerm en hulle red van mense wat hulle kwaad wil aandoen, selfs in hulle afwesigheid. Weerhou my daarvan om enigiemand kwaad aan te doen. Amen.