Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Leef wantroue in ’n hoek in

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie (1 Korintiërs 13:4-8).

Die Christendom groei tans die vinnigste in Sub-Sahara-Afrika. Nogtans is Sub-Sahara-Afrika se inwoners van die wantrouigste en ongelukkigste mense op aarde. In 2009 bevind Nunn en Wantchekon in ’n studie oor die oorsprong van hierdie wantroue dat slegs 50% van die respondente hier hulle familie werklik vertrou; 28% mense vertrou hulle bure volkome, en slegs 16% plaas baie vertroue in vreemdelinge. Dít behoort voorrang te geniet op die agenda van alle plaaslike kerke. Ons geloof moet ’n genesende impak op die samelewing hê. Tog lyk dit nie asof Christene minder wantrouig is nie.

1 Korintiërs 13 sê ons moet altyd die beste van ander verwag en hulle goed behandel. Helaas, baie mense het hierdie hoofstuk verskraal tot ’n romantiese teks vir troues. Hoe jammer! Paulus bedoel elke woord hiervan letterlik vir die regte lewe. Openheid beteken nie ons is blind vir mekaar se foute nie. Ons laai tog nie die pistool vir iemand wat ’n misdaad wil pleeg nie. Maar om met wantroue in ons hart rond te loop, is om onsself van binne af te vergiftig. Erger nog, dis teen God se wil. Die Here se liefde moet brûe tussen ons bou.

In Les Misérables steel Valjean die aartsbiskop se silwerware nadat dié hom in sy huis laat oorslaap het. Later vang die polisie vir Valjean en bring hom na die priester. In plaas daarvan om Valjean as dief uit te wys, sê die aartsbiskop die silwerware was ’n geskenk. Toe voeg hy by dat Valjean die duur silwerkersblakers vergeet het en gee dit ook aan hom. So vreemd was hierdie optrede vir Valjean dat dit hom vir altyd uit sy bestaande leefwyse geskok het. Dit het hom in ’n gelowige verander wat die res van sy lewe gewy het aan die opheffing van ander mense.

Leonard Sweet vertel van ’n priester wat hom in gebed afgesonder het. Met sy terugkeer was iemand in sy geloofsgemeenskap omgekrap. “Terwyl jy rustig eenkant gesit en bid het, moes ons almal harder werk, en om alles te kroon, lyk jy nie juis anders nie.” Toe antwoord die priester: “Maar jy lyk anders!” In sy eenkanttyd het die priester geleer om deur die bril van Christus na ander te kyk. Ons openheid verander nie in die eerste plek ander mense nie, maar wel hoe ons hulle sien en hanteer. Om ander te vertrou, al word ons soms uitgebuit, maak die evangelie op die regte maniere magneties.

Here, help my om met openheid te leef en die beste van mense te verwag. Ek wil ook graag só by U stil word dat ek met U oë na my medemens sal kan kyk. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.