“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee” (Lukas 12:22-34).
Om op ’n missie saam met Jesus te wees, is dit nodig dat ’n mens sal ontdek dat evangelisasie ’n leefwyse is, nie ’n program of ’n kursus nie. Hoor mooi, evangelisasie is ’n voltydse manier van leef. Die nuwe wagwoord wat ek myne gemaak het die dag toe ek dit ontdek het, is intensionaliteit. Die jonger geslag sal sê: “In the zone!” Dit is om doelgerig en doelbewus te leef.
Ek weet nou Jesus se missie is om die koninkryk van God te laat inbreek in ons wêreld. God se koninkryk, sy nuwe wêreld, is oral aan die gebeur. Om elke hoek en draai is daar hemelse skatte versteek in die saailande van die wêreld. Geen wonder nie dat Jesus, toe Hy op aarde was, mense se fokus gedurig verskuif het vanaf hulle eie lewe na God se ryk. Hulle moes leer om die voëls van die hemel en die blomme van die veld raak te sien as voorbeelde van God se versorging. Hulle moes leer om die ontferming van God raak te sien in die pa wat sy wegloopkind omhels en soen.
My vertrekpunt en doel sedertdien is om elke dag op ’n voltydse sending saam met Jesus en sy mense te wees. Maar – en dit is baie belangrik – die uitkomste van hierdie sending ken of manipuleer ek nooit nie. My roeping is om agter Jesus aan te stap, en dit doen ek elke dag. Hy sorg vir die res. Hy verander mense se lewe. Hy lei my op nuwe paaie. Hy lei my na daardie plekke waar ’n goeie visvangs sal plaasvind. Hy stel my oog in op mense in nood. Hy roer my hartsnare deur sy Gees.
Here, dankie dat U vir my sorg sodat ek sonder kommer op ander mense kan fokus. Help my om my geloof in U nie as ’n afsonderlike kompartement te sien nie, maar eerder as ’n leefwyse. Ek wil doelbewus en doelgerig leef met my fokus op u koninkryk gerig. Amen.