Boodskap vir Vandag

Search

24/7

Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie” (Lukas 15:3-7).

Wanneer ek elke oggend opnuut aanmeld vir diens in Jesus se span as een van sy kelners, soos Hy my rol in Lukas 17:7-10 omskryf, rig ek my oë en my hart en my voete en my hande en my tydsbestuur en my dagboek en my rekenaar en my verhoudings en my etes en my kuiers en my motorbestuur en my huwelik en my slaap en my opstaan op God se koninkryk. Dan is ek ingestel op die instruksies van my Heer. Dan is ek heeldag op die uitkyk vir tekens van die inbreek van God se koninkryk in die wêreld rondom my. Aanduidings van waar ek moet praat, omgee, bid, feesvier, uit die pad staan, naderstaan of geld gee, is elke dag verskillend. Ek leer maar net om al meer ’n kenner van God se nuutste werke te word en my nooit blind te staar teen tydelike “oorwinnings” van teenstanders nie.

Om doelgerig en doelbewus saam met Jesus in the zone te leef, beteken al die nuwe verhale van die Here se verlore eiendom wat by Hom tuiskom, is nou baie meer opvallend in my lewe as die nuutste lamppaalopskrifte van korrupsie in die land of nog ’n krisis in die wêreld. Een mens wat in Jesus vashardloop terwyl sy of hy aan die vlug was, is vir my eindeloos kosbaarder as tien stories van sterwende kerke of krimpende bedienings. Een mens wat kies om stukkendes en vergetenes te dien is vir my hoofnuus, nie die nuutste prestasies van sporthelde nie.

Hierdie nuwe kyk verander my prioriteite, asook my lewensritme en my aktiwiteite.

My God, dankie dat ek ’n kelner in u diens kan wees. Help my om doelgerig en doelbewus te leef sodat alles wat ek doen – of ek nou slaap of wakker is, of ek motor bestuur of eet – tot eer van U sal wees. Verander my prioriteite, my lewensritme en my aktiwiteite om in pas met u wil te wees. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.