In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het (1 Petrus 3:15-16)
Hoe getuig ’n mens vir die Here? Ek weet nie. Net soos ek nie ’n spesifieke resep het vir hoe om oor my wonderlike vrou en kinders te praat nie, het ek ook nie ’n standaard-praatjie oor Jesus wat ek blindelings op mense loslaat nie.
As jy my oor my wonderlike vrou uitvra, sal jy wel liefdestaal oor haar op my lippe hoor. En hopelik sal jy dit ook sien wanneer ons saam is. Ek vertel graag lewensveranderende stories oor Marietjie in haar afwesigheid, en wanneer ek by haar is, geniet ek haar teenwoordigheid. So “getuig” ek oor haar. Dieselfde geld vir my kinders en vriende. Ek praat mooi oor hulle omdat ek lief is vir hulle en ek probeer ook altyd met liefde teenoor hulle optree wanneer ek by hulle is. My getuienis oor my familie is lofwoorde oor hulle tussen ander. My pogings om hulle op die hande te dra wanneer ek by hulle is, moet dit vir hulle bevestig.
Só verstaan ek ook my woorde oor Jesus en my dade vir Jesus.
Ek praat graag mooi oor Jesus tussen ander mense omdat Hy my Here is. Ook probeer ek altyd só leef in sy teenwoordigheid dat Hy met my lewe tevrede sal wees. Jesus is deel van my daaglikse woordeskat en gesprekke. Tog het ek, met respek gesê, geen beheer oor Hom met my woorde nie. Jesus is die Here. Ek is sy dienaar. Ek stap gehoorsaam agter Hom aan, oor daardie pad wat Hy vir my uitgekies het. Wanneer ek elke oggend opstaan om hierdie avontuur opnuut saam met Hom aan te pak, is die Gees my Leidsman. Hy skep geleenthede om reg te doen en met wysheid te praat, doer oorkant die straat. Hy verbind wonde wanneer dinge skeefloop.
Soms gaan daar lang tye verby sonder enige sigbare vrug op hierdie lewe in die koninkryk van God. Maar dit maak nie saak nie. Resultate is God se afdeling; myne is gehoorsaamheid en getrouheid. Ek moet maar net op die regte saailande gaan werk. Die Here sal elke saadjie wat in sy Naam gesaai word, laat groei soos Hy dit wil. Al wat ek aan my kant van die pad moet doen, is om ’n getroue navolger van Jesus te wees. Soos Johann Fourie graag sê: “Dissipelskap is ’n driestap-proses: Ontmoet die Lig; word ’n lig; laat skyn die lig.”
Liewe Vader, help my om al die geleenthede raak te sien wat U oor my pad stuur. Ek wil altyd gereed wees om U, die rede vir my hoopvolle lewe, met ander te deel. Ek wil graag die Lig in my lewe navolg en dit laat skyn in die lewe van ander. Amen.