Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (Handelinge 20:24).
Hoe kan swak gelowiges enige uitwerking in hierdie groot wêreld hê? Wat kan doodgewone dissipels doen om die wêreld tot eer van God te verander?
Dit was ook die skoenmaker William Carey (1761-1834) se uitdaging. Toe word hy ’n deeltydse leraar in die Engelse dorpie Leicester om ’n verskil te probeer maak. Maar sy pyn oor die wêreld se God-nood het al hoe feller geword. Tydens ’n plaaslike byeenkoms van godsdiensleiers in Northampton vra Carey toe of dit nie alle gelowiges se roeping is om die wêreld met die Goeie Nuus van Christus te dien nie. ’n Bekende kerkleier het skynbaar geantwoord: “Sit down, young man. If a sovereign God wants to convert the heathen, he doesn’t need you to do it.”
Carey het hierdie “raad” geïgnoreer, sy moue opgerol en ’n sendeling in Indië geword. Daar het hy in moeilike omstandighede gaan werk. Sy een kind het gesterf, ’n paar jaar later is sy vrou ook oorlede, en sy heel eerste bekeerling is vermoor. Tog het Carey groot werk in Indië gedoen en die Bybel in ’n paar belangrike Indiese dialekte vertaal. Sy werk het soveel impak gemaak dat hy vandag die vader van die moderne sendingwese genoem word.
Wat het hierdie doodgewone skoenmaker-leraar van Engeland aangevuur om die aarde te oorkruis? Drie lewensbelangrike dinge: 1) Hy het trompop in Jesus vasgeloop. 2) Hy het aan Jesus se voete rus gevind. 3) Hy het saam met Jesus oor die straat gestap.
Carey het nie voor die tyd ’n glashelder plan vir sy sending in Indië gehad nie. Al wat hy gehad het, was ’n onwrikbare visie van Christus se liefde vir God se verlore eiendom. Dit het soos ’n vuur in sy binneste gebrand. In die eerste ses jaar van Carey se moeilike bediening, terwyl hy ’n vriend se fabrieke in Indië bestuur het om te oorleef en die Nuwe Testament in Bengalees begin vertaal het, het hy sy sendingstrategieë in plek gekry. Hy wou plaaslike geloofsgemeenskappe vorm, hulle leer om finansieel selfversorgend te wees en inheemse kerkleiers oplei.
Praat van geloofswaagmoed! Carey het nie gewag totdat hy eers al die nodige hulpmiddels, planne en fondse in plek gehad het nie. Hy het geweet waar die straat was wat hy in geloof moes oorsteek – en dit het hy gedoen. Die res was in die Here se hande.
My God, U is my kompas en rigtinggewer. Help my om U so te vertrou dat ek die pad sal oorsteek na ander toe, selfs al het ek nog nie al die besonderhede uitgewerk nie. Ek wil my lewenstaak vir U met alle ywer voltooi. Dankie dat ek kan weet dat U elke tree saam met my sal gee. Amen.