Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het” (1 Samuel 17:45).
Dries Lombaard het gesê: “If you stand for something you will have opposition and support. If you stand for nothing you won’t have any opposition. And no support.”
Gewone mense wat ongewone dinge vir Christus doen, laat die wêreld sentimeter vir sentimeter omswaai. Hulle weet wat hulle moet doen, en hulle doen dit, al ervaar hulle teenkanting. Hulle beplan ook, want hulle is nie dwaas nie en storm nie blindelings in ’n situasie in nie. Hulle ken immers die verskil tussen waagmoed en dwaasheid.
- Waagmoed gebeur op Jesus se pad; dwaasheid gebeur op mensgemaakte roetes.
- Waagmoedige mense is leerbaar; dwase is impulsief en onleerbaar.
- Waagmoedige mense is Gees-aangedrewe; dwase is egosentries.
- In waagmoedige dissipels brand daar ’n vuur om God se verlore eiendom op te spoor; dwase is net op hulle eie eer en behoeftes ingestel.
- Waagmoed is intuïtief; dwaasheid lei tot vrees.
Intuïsie is daardie diep wete of oortuiging wat in ons posvat en groei, en wat ons vinnig en doeltreffend laat optree. Dit is anders as oorhaastigheid of onnadenkende dwaasheid. Natuurlik moet intuïsie getoets word saam met ander gelowiges. Nogtans gee dit aan ons die innerlike oortuiging en vaste wete van watter koers ons moet inslaan, selfs al is die besonderhede van hierdie roete nog nie bekend nie. Dwaasheid is om alle intuïsie te ignoreer en gedurig mense se vrese te besweer en te bestuur voordat daar tot aksie oorgegaan word.
Die jong Dawid wat geweet het die Here is by hom in sy stryd teen Goliat, is vir ons ’n goeie voorbeeld van waagmoed en Godgegewe intuïsie. Elke dag kan ons ons afvra: Wat kan ek vandag uit waagmoed vir die Here aanpak?
Here, help my om met waagmoed te reageer op u Godgegewe intuïsie. Ek wil dapper wees, soos Dawid, omdat ek weet dat U by my is en my geroep het. Ek wil nie oorhaastig en dwaas optree nie. Ek wil ook nie sloer om u wil te gaan doen nie. Gee my daarom die onderskeiding om u wil te ken. Amen.