Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gestuurdes

Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in” (Lukas 10:1-3).

Lukas 10 is ’n aangrypende gedeelte. Hier word drie pilare van die navolging van Jesus prakties uitgespel. Jesus leer ons hier dissipels is:

  • gestuurdes in Jesus se Naam (10:1-20)
  • gestuurdes wat oor die pad stap om ’n naaste vir ander in Jesus se Naam te gaan wees (10:25-37)
  • gestuurdes wat rus gevind het aan Jesus se voete (10:38-42).

Jesus self stuur sy mense uit. Die 72 gestuurdes na wie Lukas hier verwys, verteenwoordig ons almal. Hierdie groepie wat voor Jesus uitgegaan het op sy reis na Jerusalem, was deeglik bewus van die oormag teen hulle. Daarom hoor hulle dat hulle moet bid vir nog werkers. Ware gestuurdes van Jesus leef hulle geloof in die voorste loopgrawe van die lewe uit en nooi ander werkers in gebed saam met hulle daarheen. Hulle leef soos Wilhelm Leuschner gesê het: “Moenie net weet nie, doen dit! Moenie net doen nie, leef dit!”

Hierdie gestuurdes weet hulle sending kan gevaarlik wees. Jesus self sê Hy stuur hulle soos lammers tussen wolwe in (10:3). Praat van ’n brose rolbeskrywing! Nee, hulle is nie leeus wat brul nie. Of olifante wat vreesloos deur die bos stap nie. Jesus se mense is lammers. Nie skape nie, maar lammers. Daarom kan hulle slegs op die Here vertrou vir die oorwinning. Hulle self is te swak om enigiets reg te kry.

Jesus sê ook daar is geen byvoordele vir sy gestuurdes nie. Geen geld, gerief of gewildheid wag op hulle nie. Omdat die Here hulle uitstuur, is daar egter ’n dringendheid en ’n opgewondenheid in hulle harte. Soos kindertjies is hulle op ’n groot avontuur saam met hulle Heer. Daarom het hulle nie tyd het vir sinlose praatjies langs die pad nie (10:4). Jesus se gestuurdes het reeds die straat oorgesteek (10:5-7). En aan die oorkant van die pad is hulle voltydse verhoudingbouers. Voltyds ’n naaste vir ander.

Here Jesus, hoe wonderlik is dit dat U saam met my en deur my wil werk in hierdie wêreld. Dankie dat U my ook stuur. Help my om rus te vind by u voete en dan oor die pad te stap na my naaste toe. Dit is die grootste avontuur om saam met U hierdie pad te stap. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.