Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Werk en Weggee: Werk

En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kolossense 3:17).

Werk en Weggee is die derde geestelike leefritme wat ons daagliks kan inoefen.

Ek het grootgeword met die idee dat gelowiges hard moet werk en spaarsamig moet leef. Ons leuse was: “Plig voor plesier.” En: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet.”

Maar is werk regtig net swaar? Nee! Ons leef, werk en speel immers vir die Here. Ons is dissipels van Jesus vermom as mense met ’n alledaagse werk.

Wat sê die Nuwe Testament vir ons oor werk?

  • Werk is ’n gegewe; nie ’n luukse of ’n straf nie (1 Tess 4:11).
  • Ons werk hard en met integriteit sodat ons nie vir ander ’n las sal wees nie (1 Tess 2:9).
  • Luiheid vermom as geestelike vroomheid is verkeerd (2 Tess 3:10-12).
  • Harde werk is tot voordeel van die swakkes en armes (Hand 20:35).
  • “Beter” beroepe met meer geld en status is nie gelyk aan bevordering in God se koninkryk nie (1 Pet 2:18).

Ons as dissipels van Jesus dans op die maat van ander musiek, ook wat ons werk betref. Ons werk nie voltyds vir ’n maatskappy en na ure as vrywilligers by ons kerk is nie. Ons is heeldag in Jesus se diens. Daarom skryf Petrus in 1 Petrus 2:18 vir huisslawe om hulle onindrukwekkende werk goed te doen, veral as hulle slegte aardse eienaars het. Hulle doen hulle werk vir die Here, nie vir mense nie. Ons almal werk vir ’n gehoor van Een.

Natuurlik bring ons ons kant vir ons aardse werkgewers, maar meer geld of hoër posisies is nie ons lewensdoel nie. Ons is ook nie verslaaf aan ons werk nie, want dit vervreem ons van ons familie en vriende. Ons is bereid is om ons doodgewone werk op buitengewone maniere te doen. Dit beteken nie ons is gekant teen bevorderings en verhogings nie. Glad nie. Die Here wil sy kinders ook in bestuursposisies en leiersrolle in die wêreld ontplooi. Maar vir Christene is sulke poste net nuwe platforms om vir die Here te leef en ander te dien.

Watter werk ons ook al doen, ons as dissipels van Jesus werk hard tot voordeel van ander. Ons is regverdig en vol deernis. Ons sien om na ander mense. Ons lei deur te dien. Ons bestuur deur om te gee en die mooiste en die beste in ander te voorskyn te bring.

Here, dankie dat ek heeldag vir U kan werk, my gehoor van Een. Ek wil elke dag my bes gee omdat U oor my regeer, nie my geld of my horlosie nie. Help my om regverdig en met deernis te werk, sodat ek die mooiste en beste in ander te voorskyn kan bring en vir hulle kan sorg. Amen. 

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.