“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word …” (Matteus 6:5-9).
Om God ons Vader te noem het amper te algemeen geword. Sommige goeie kerkmense vervang dan sommer die Naam “Vader” met “die Man daar bo”, wat eintlik maar net die produk van ons wensdenkery is. Hierdie Man daar bo moet net ons wense vervul. Die Vader wat ons uit genade sy kinders gemaak het, wat meer vir ons omgee as wat enige ouer ooit vir ons kan omgee, het in baie mense se denke verdwyn.
Ons Vader wat in die hemel is, laat ons dalk ’n effense afstand aanvoel. Hoe sal Hy ons kan verstaan? Wanneer ons sê dat ons Vader in die hemel is, druk dit egter nie afstand uit nie, maar andersheid. God is nie van ons stoffasie gemaak nie. God dink nie soos ons nie. God is nie beperk soos ons nie. God staan nie magteloos en toekyk hoe alles tot niet gaan nie.
Toe die Christene ná Jesus se dood en opstanding hierdie gebed begin bid het, het hulle besef een van die grootste wonderwerke van alle tye het plaasgevind. Die hemel is oopgeskeur en God het tussen mense kom woon. Matteus beskryf Jesus dan ook as “Immanuel”, God by ons (1:23).
Iemand skryf op Facebook dat hy dit moeilik vind om te bid vir dinge soos reën wanneer dit droog is. Sal God somer in winter verander in winterreënvalgebiede? Ek onthou goed hoe moeilik dit vir my in my eerste gemeente in die Noord-Kaap was. As die skaapboere reën nodig gehad het, het die ander boere gebid dat dit nie sou reën nie omdat hulle lusern kon natreën en die oes kon bederf.
Die gebed wat Jesus ons leer bid, is deel van die Bergrede (Matt 5–7). Dit begin met die woorde: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” (5:3). Wanneer ons sê ons het ’n Pa in die hemel, staan ons in verwondering voor die Een wat weet wat ons op die regte tyd nodig het. Twee keer in Matteus 6, waar die Ons Vader voorkom, word dit benadruk dat ons Pa weet wat ons nodig het. Ons moenie soos die heidene dink nie. “Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (6:8). Dan leer Jesus ons hierdie gebed, die Ons Vader (6:9-13).
Later in die hoofstuk praat Jesus van ons Vader wat sorg vir die blomme van die veld en voëls van die hemel. Hy sê ons moet die bekommernis oor die toekoms uit ons harte verban, want “julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het” (6:32).
Wanneer ons dit verstaan, staan ons in verwondering voor ons Vader in die hemel wat met hemelse majesteit beklee is en steeds vir ons, nietige wesens, omgee en sorg.
Hemelse Vader, dankie dat U vir my sorg. Ek is totaal afhanklik van U. U wonderdade vul die hele wêreld. Help my om elke dag lank genoeg stil te raak om dit te waardeer. Dankie dat ek tot U kan bid, maar meer nog, dat U weet wat ek nodig het nog voordat ek kan vra. Amen.