Boodskap vir Vandag

Search

Mense wat heilig leef

As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:14).

Jan Overduin, die bekende Nederlandse predikant, vertel hoe hy na ’n “goeie” kerk beroep is. Die mense was simpatiek, vrygewig en vreedsaam. Een nag is hy ontbied na ’n man wat op sterwe gelê het. Die man het sonder God en die kerk geleef. Overduin het die man gevra of hy al van God gehoor het. Die man het geantwoord: “Ja, dit is ’n woord wat ons gebruik om te vloek.” Overduin vra hom toe of hy weet wie Jesus is. Die man het geantwoord: “Dit is ’n skildery in die kerk.” Tot sy ontsteltenis het Overduin ontdek dat hierdie man jare lank skouer aan skouer saam met ’n leier in sy gemeente gewerk het en steeds só oor God en Jesus gedink het.

Die volgende Sondag het Overduin aan sy gemeente gesê: “Julle is sulke gawe mense, maar julle is wreed! Hoekom? Want mense gaan vir ewig verlore omdat julle hulle nie van Jesus vertel nie.”

Heiligheid is nie ’n gunsteling-woord nie. Dis ietwat oud. Dit het selfs ’n ietwat sarkastiese woord geword. “Hulle dink hulle is heiliger as ander.” Net ’n paar supergelowiges kan heilig genoem word. Hierdie opvattings oor heiligheid pas nie by die Bybel nie. Die oproep om heilig te wees is nie iets wat ons kan wegredeneer nie. Dis daar!

Petrus se lesers is dikwels deur hulle gemeenskap bespot en eenkant toe geskuif (1 Pet 4:4). Hoekom? Omdat hulle Christene was. Hoe het mense dit geweet? Hulle was anders as die res van die samelewing. Hulle lewe het gewys wat hulle glo. Voorheen was hulle heidene (4:3); nou was hulle leefwyse so anders dat hulle onmiskenbaar opvallend was (4:4). Petrus se lesers is beswadder omdat hulle nie meer saam met die stroom wou gaan nie.

Ek wonder of dit nog die geval is. Word ons nie deesdae eerder beswadder en beskinder omdat ons voorgee dat ons Christene is, maar nie so leef nie? Heiligheid is nie vir ons ’n opsie nie. Die heilige God roep sy mense op om heilig te wees. “Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God. Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My” (Lev 20:7-8).

Dalk moet ons ons vandag afvra: Is ons gawe mense, maar wreed? Wys ons lewe dat ons aan ons Vader in die hemel gewy is? Vertel ons met woord en daad vir ander mense van Jesus sodat hulle ook gered kan word?

Here, dankie dat U my radikaal verander het om al meer soos U te wees. Help my om heilig te leef, anders te leef, sodat my lewe lig en sout vir die aarde sal wees en U daardeur verheerlik sal word. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.