“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matteus 6:33-34).
Gister het ons Hans Bouma se treffende woorde gelees: “Met die woorde ‘laat u koninkryk kom’ bid ons vir ’n ramp.” Vir die vernietiging van ons eie koninkryke.
As Jesus se gebed dan vernietigend is, kan ons verstaan hoekom Gerrit Berkouwer skryf dat mense meestal nie bewus is van wat hulle werklik sê wanneer hulle bid dat die koninkryk van God sal kom nie. Hierdie gebed ontketen kragte ver bo wat ons begrip. Hierdie koninkryk, hierdie geregtigheid, hierdie wil van God, is deur Jesus Christus aarde toe gebring. In Hom sien ons die koningskap van God. Jesus sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt 4:17). Dan sien ons hoe Hy mense genees en die boodskap van God se evangelie van liefde verkondig (4:23-24). Iets van die nuwe hemel en die nuwe aarde breek deur wanneer Jesus tussen mense kom staan.
Hoekom moet ons menslike koninkryke tot niet gaan? Want al ons koninkryke begin in ons harte. Ons plaas onsself op die troon. En Jesus maak dit duidelik in die Bergpreek dat moord, egbreuk, onvrede, vergelding en haat ook in ons harte begin. Gedagtes soos “Ek sal jou terugkry,” “Ek is beter as jy” of “Ek hou my besittings vir myself” sê dat ons koning van ons eie lewe is. Laat óns wil geskied! Ongeregtigheid, die vernietiging van menselewens, aanvalle op immigrante, diskriminasie, besoedeling, vlugtelingkampe, diefstal, moord, gebroke kinders en huwelike, leuens, verdeeldheid, noem maar op, is die spoor van verwoesting wat deur ons eiewilligheid en eie koninkryke nagelaat word.
Frederick Brotherton Meyer skryf in sy boek The secret of guidance (1896) dat terwyl daar nog enige gedagte aan persoonlike voordeel, enige idee om die lof en goedkeuring van mense te ontvang of enige doel van selfverheerliking bestaan, dit eenvoudig onmoontlik is om God se doel vir ons te ontdek.
Ons weet hoeveel pyn ons eie koninkryke en ons eie wil veroorsaak. Ons sien dit rondom ons en in ons omstandighede. Jesus se bediening is die radikale teenoorgestelde. Dit bring heling, versoening, vrede, barmhartigheid en onvoorwaardelike liefde. Só breek die koninkryk van God op aarde deur. Só sal die nuwe hemel en die nuwe aarde lyk. En wanneer ons bid dat God se koninkryk sal kom, bid ons dat ons soos Jesus sal leef en hierdie koninkryk sigbaar sal maak.
Hemelse Vader, ek is jammer dat ek so dikwels self op die troon van my lewe wil sit. Ek weet wanneer ek self oor my lewe regeer, kry ek en ander seer. Wees U koning oor my lewe. Ek wil my heel eerste vir u koninkryk en u wil beywer, want net U weet wat ek en die wêreld nodig het. Amen.