“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. Die Heilige Gees sal by julle bly. As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer” (Johannes 14:12-15).
As die Ons Vader-gebed beteken ons eie koninkryke word vernietig, beteken dit ons bid terselfdertyd vir die vestiging van ’n ander koninkryk. Ons bid dat die koninkryk en die wil van God al meer op aarde gestalte sal vind.
Daar is ’n rusteloosheid in ons harte as God se koninkryk nie groei nie. Ons gebed is daarom dat God se koninkryk sal uitbrei. Ons bid dat sy kerk sal groei. Ons bid dat ons en ander deel van sy koninkryk en sy kerk sal word. Ons is ontevrede solank daar honger, dors, pyn, siekte, lyding en onbekeerde harte is. Ons rus nie voordat God se wil in die hemel ook op die aarde geskied nie. O, hoe wens ons dat alles anders sal wees!
William Booth, die stigter van die Heilsleër, het dit verstaan: “Terwyl vroue huil soos nou, sal ek die stryd voortsit. Terwyl kindertjies honger is, sal ek die stryd voortsit. Terwyl daar nog een dronkaard oorbly, nog een verlore arm dogtertjie op straat is, nog een persoon sonder die liefde van God is, sal ek die stryd voortsit. Ek sal aanhou stry tot die laaste oomblik!”
Dis hoekom ons bid dat die kerk sal groei en bewaar sal word, want dit is deur gewone Christene wat elke dag God se wil doen dat sy koninkryk en sy geregtigheid al sigbaarder sal word. Al vra dit dat ons wil ondergeskik aan sy wil sal wees, al beteken dit sy wil sal alles bepaal, sal ons bid dat ons lewe al meer deur God se wil en koninkryk beheers sal word.
Hans Bouma skryf: “As ons die Koning met integriteit en doeltreffend wil verteenwoordig, sal ons ons voor al ons doen en late konsekwent aan Hom oriënteer. Hy bepaal die koers. In sy Gees sal ons ons gang moet gaan.”
God loop voor in die uitbreiding van sy koninkryk en die vestiging van sy wil. Wat ’n lewensveranderende ervaring! En wat ’n voorreg dat Hy saam met ons wil werk om sy koninkryk te vestig en sy wil te laat geskied.
Here Jesus, dankie dat U saam met my wil werk om die koms van u koninkryk aan te kondig. Ek kan amper nie dink dat U my wil gebruik om nog groter dinge as U op aarde te doen nie. Ek verlang daarna dat die aarde soos die hemel sal wees. Kom genees ons wêreld se gebrokenheid. Deur u Gees is ek tot u diens. Amen.