Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe” (Psalm 40:7-9).
Met alles wat ons doen, bereik ons een van twee dinge: óf ons skep ’n hel op aarde óf ons bring ’n voorsmaak van die hemel na vore. Óf ons dra by tot die gebroke toestand van die wêreld óf ons werk saam met God om die wêreld radikaal te verander sodat sy geregtigheid sigbaar sal wees. Óf ons bevorder Satan se beheer óf ons maak die koningskap van God bekend (Charles Colson).
Die skrywer EB White merk op dat as die wêreld bloot verleidelik was, dit maklik sou gewees het om tussen goed en kwaad te onderskei. As dit bloot uitdagend was, sou dit geen probleem gewees het nie: “Ek staan egter elke oggend op, verskeur tussen die begeerte om die wêreld beter te maak en die begeerte om die wêreld te geniet. Dit bemoeilik my taak om ’n dag te beplan.”
So dikwels hoor of sê ons: “Nie nou nie. Later. Dan sal ek rustiger wees en meer tyd hê. Die kinders sal groter wees en ek sal meer geld hê.” Ons almal ken hierdie woorde. Ons gebruik dit wanneer ons uitstel om God se wil te doen. Ongelukkig sal daar nooit ’n geleë tyd vir mense wees om God se wil te doen nie. Daar is altyd iets wat vir ons belangriker is, wat meer aandag verg, wat ’n groter prioriteit is. Dan is daar ook ons menslike natuur. Dit kos te veel om God se wil te doen. Dis baie makliker om ons gewete te sus met ’n goeie maandelikse bydrae aan die kerk of ’n verdienstelike organisasie. Ek sal enigiets doen, maar moet my net nie vra om meer tyd of meer geld of meer van myself te gee nie.
Wanneer ons naby aan God se Woord leef, sal ons sy hart leer ken. Ons sal sy wil, sy koninkryk en die eer van sy Naam ons hoogste prioriteit maak. Ongelukkig moet ons erken dat ons nie altyd naby aan God se hart leef nie. In sy boek With open hands skryf Henri Nouwen omdat ons so graag in beheer van ons eie lewe en eie toekoms wil wees, sluit ons ons af van wat werklik kan gebeur. Ons word soos dwergies in ’n wêreld van klein dingetjies. En soms gebruik ons gebed net om vir God te vra wat ons wil hê.
Nee, sê Nouwen, gebed beteken dat ons geen waarborge vra nie, geen voorwaardes stel nie en geen bewyse vereis nie. Al wat ons doen, is om alles van God te verwag sonder om God in enige opsig te bind. Bowenal moet ons God dan onvoorwaardelik vertrou met die toekoms.
Wat is jou planne? Wat is jou toekomsdrome? Het jy die vrymoedigheid om vandag die seën van God daarvoor te vra? Meer nog, om God te vra wat jy moet doen wat Hy wil seën? Vra God om jou deur sy Gees te lei sodat alles wat jy doen vir Hom ’n aanneemlike offer sal wees.
Hemelse Vader, my begeerte is om volgens u wil, u Woord, te leef. Ek is jammer dat ek soms te gefokus raak op ander dinge en dit bo-aan my prioriteitslys skryf, bokant u wil en u koninkryk. Help my om met oop hande te leef en U met die toekoms te vertrou. Amen.