Boodskap vir Vandag

Search

Die vrug van God se liefde in jou

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid (1 Joh 3:16-18).

“Gee ons vandag ons daaglikse brood” is ’n gebed met ewigheidsimplikasies. Dit is ’n gebed van algehele oorgawe aan God se geregtigheid en wil vir hierdie wêreld wat in pyn en lyding en nood verkeer.

Wanneer Jesus in Lukas 12:21 sê: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie,” sê Hy vir ons: Om ryk by God te wees beteken om vir die armes te gee. Daarom sê Jesus dan ook ’n paar verse later: “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie. ’n Onuitputlike bron in die hemel waar geen dief dit kan bykom nie en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart wees” (Luk 12:33-34). As julle skatte by God is, sal julle harte ook daar wees; as julle harte egter by julle skatte is, sal julle harte nie by God wees nie en julle sal God en julle medemens nie dien soos julle moet nie.

Kinders van God, sê Jesus in die Matteusevangelie, sal op die laaste dag uitgeken word aan die vrug van hulle deernis met mense in nood. Het ons omgegee vir dié wat honger en dors was? Het ons omgegee vir vreemdelinge en dié wat weens siekte en ander omstandighede in nood verkeer het? Wanneer ons sorg vir mense in nood, is dit asof ons vir Jesus self sorg: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek” (Matt 25:34-36)

Dis nie te laat nie. Mag God jou in staat stel om die seëninge wat jy van Hom ontvang met ander te deel. Dit is wat Jesusvolgelinge doen wanneer die woorde van hulle gebed oorgaan in hulle dade van liefde.

Here God, gee dat my oë oop sal wees vir geleenthede om te help en my hande gretig om u wil op aarde te laat geskied. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.