Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sonde, of skuld?

“Ons Vader wat in die hemel is … vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:9, 12).

Dit is met groot huiwering dat enigiemand kommentaar op Bybelvertaling lewer. Ons moet egter daarop let dat die bede in Matteus 6:12 nie hoofsaaklik oor oortredings gaan nie, maar eintlik oor skuld. Een moontlike vertaling van hierdie vers sou wees: “En vergeef ons ons skuld soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Interessant genoeg stem die weergawe in die Didache, ’n vroeë Christelike geskrif, ooreen met Matteus se skuld en skuldenaar, en nie met Lukas se verwysing na sonde nie.

Hoekom sou Lukas na sonde verwys en Matteus (en die Didache) na skuld? Die antwoord op hierdie vraag bied ook die sleutel om hierdie bede te verstaan. Die verhaal begin egter baie ver terug, geografies én in tyd.

Een van grootste probleme in die eerste-eeuse wêreld van Galilea en Judea was ekonomies van aard: skuld. As gevolg van ’n dubbele belastingstelsel (geld verskuldig aan die tempel en die Romeine) moes talle Joodse kleinboere die een of ander tyd skuld aangaan om skuld te kon betaal. Boonop het natuurrampe, misoeste en oorbevolking die skuldsituasie vererger.

In die gevalle waar lenings en skuld nie terugbetaal kon word nie, het mense hulle besittings verkoop of verpand. Wanneer alles verkoop was, kon hulle net hulle (familie)grond aanbied – wat dan dikwels deur die grondbaronne van die dag vir ’n appel en ’n ei opgekoop is. Die noodwendige gevolg was onteiening, armoede, werkloosheid, honger en die ewige belastinggaarder by die deur.

Die gevolge van die skuldsituasie is uiters belangrik wanneer ons oor hierdie bede van die Ons Vader nadink. Met Jesus se geboorte word Hy mens in ’n Joodse konteks waar talle voormalige kleinboere as gevolg van onteiening nou moes werk op die grond waarvan hulle eens die eienaars was. Mense was honger vir brood (stapelvoedsel) en vir geregtigheid wat hulle van hulle situasie sou verlos.

Douglas Oakman skryf hieroor in sy boek Debt, and the Lord’s Prayer: “Jesus was not crucified because he taught pious platitudes – who would have cared? He was not crucified because he had a different take on traditional Israelite law – lots of Judean teachers of his day and later had major disagreements on these issues. He was crucified because what he had to say was perceived as a fundamental challenge to the status quo, and that included his comments on debt and taxation.”

Dit gee ons baie stof tot nadenke in ons wêreld van vandag. Denke wat tot dade behoort oor te gaan.

Hemelse Vader, bewaar my daarvan om ’n status quo te ondersteun wat mense onderdruk. Gebruik my om mense vry te maak, te vergewe en uit te daag om ’n wêreld te skep waarin almal kan floreer. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.