Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Rom 12:16-21).
Jesus se gebed in Matteus 6:9-12 is in wese ’n gebed om God te vra om te kom help. Soos die bede om ons daaglikse brood ’n dringende versoek vir noodsaaklike lewensmiddele is, is die bede om ons skuld te vergewe ’n dringende versoek dat God sal ingryp in die lewensituasie van dié wat kreun onder skuld. Gee ons brood én vergeef ons ons skuld …
’n Mens kon in die destydse wêreld nie die een sonder die ander bid nie. Dit is daarom die gebed van ’n afhanklike en hulpbehoewende mens. En dit word vandag nog gebid deur dié wat afhanklik is. Hiermee word ’n verdere eienskap van die bede duidelik gemaak. Om dit te verstaan, is nie moeilik nie. Om dit deur te volg is egter ’n ander saak. Want waaroor dit hier ook gaan, is om ’n oog op die mense en die wêreld rondom jou te hou.
’n Storie uit my kinderdae kan dit dalk verhelder. As klein seuntjie wou ek vreeslik graag elektriese motortjies gehad het, dié soort wat om en om op die renbaan kon ry. Tydens ’n destydse Kinderkransbyeenkoms het ons in die kringetjie kans gehad om saam hardop te bid. Natuurlik het ek benewens anders sake ook gebid vir die karretjies en die renbaan. Die aand by die huis lui die voordeurklokkie. Toe my ma die deur oopmaak, staan ons Kinderkrans-tannie daar met ’n boks vir my.
Ja, jy het reg geraai. Elektriese motortjies en ’n renbaan. Sy het later verduidelik dat haar kinders nie meer daarmee wou speel nie. En my gebed het haar laat besef dat iemand anders nog daarmee wil en kan speel.
Wanneer ons bid: “Ons Vader …” is as’t ware ’n verklaring dat verskillende gelowiges – ryk en arm – skouer aan skouer staan of sit wanneer hulle saam opkyk en bid: “Ons Vader …” Die lot van die een word hiermee ook die lot van die ander. Die gebed van die arme word die wekroep van die ryke. Die vertikale roep na God word geëggo deur die horisontale luister na die smeekroep van dié wat in nood is. Die gebed om kwytskelding van skuld word verhoor waar die ryke die arme hoor bid en besluit om te help aangesien hulle deel van die nuwe familie van God is.
Mag God gee dat ons hierdie gebed van Jesus nie net klakkeloos bid nie, maar sal bid in afhanklikheid van God én met ons oë, harte en hande op ons medemens gerig.
Here, ek staan vandag afhanklik voor U. Gee my my daaglikse brood. En stuur my dan na waar ek hierdie brood kan gaan uitdeel. Vergewe my my skuld. En stuur my na waar ek ander se skuld kan verlig. Amen.