Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ’n mens gehad het nie. En in dieselfde stad het ’n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ ’n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.’” Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk 18:1-8).
’n Kykie na die agtergrond van die eerste-eeuse konteks help ons om die raaiselagtige betekenis van hierdie gelykenis te ontbloot. Dit hang weer saam met die groot skuldprobleem van die destydse gemeenskap. As gevolg van hoë belastings moes mense dikwels skuld maak om te kon leef. Hierdie skuld is dikwels met ’n pand gewaarborg, en hierdie pand kon verloor word as die skuld nie terugbetaal kon word nie.
Wanneer wetgewing deurgevoer is waarvolgens eiendom permanent vervreem kon word om agterstallige skuld te delg, het dit daartoe gelei dat mense ontneem is van hulle erfgrond en daarmee saam die vermoë om ’n inkomste te genereer. Die noodwendige gevolg was radeloosheid by sommige en woede by ander. Mense het soms die reg in eie hande geneem. Daar is in die geskiedskrywing voorbeelde van mense wat die skuldbewyse teen hulle probeer vernietig het. In een geval is die plek waar hierdie bewyse bewaar is aan die brandgesteek.
Lees nou weer Jesus se gebed met hierdie agtergrond in gedagte: “Ons Vader wat in die hemel is … laat ons nie in versoeking kom nie” (Matt 6:9, 13).
Daar was die versoeking om reg in eie hande te neem. Veral wanneer die verontregte mense gemeen het reg en geregtigheid is aan die kant van die onderdrukker. Ten regte kon hulle so dink. Die rykes en vernames het immers vrye toegang tot die regbank gehad. Jesus maak het toe die gelykenis van die onregverdige regter vertel, iemand wat God nie gerespekteer het nie en nie oor sy medemens besorg was nie.
Soos elke gelowige weet, en destyds geweet het, begin wysheid en insig by eerbied vir God. Hierdie wysheid en insig het ten doel om die wil van God te doen. Wanneer ons die gedagtelyne dan by mekaar uitbring, is ’n onregverdige regter en regstelsel in stryd met die wil van God. Dit skree ten hemele. Gevolglik is die versoeking daar om reg in eie hande te neem en dinge reg te stel. Dit is oor hierdie versoeking-element wat die bede “laat ons nie in versoeking kom nie” in die eerste plek gaan.
Ook in ons land is daar onregverdige situasies waarin ons graag die reg in eie hande wil neem. Mag ons die versoeking weerstaan om ander, selfs ons vyande, kwaad aan te doen.
Hemelse Vader, verlos ons van onregverdige mense en strukture. Laat ons nie in die versoeking kom om reg in eie hande te neem nie. Gebruik my om onreg in hierdie wêreld teen te staan, en gee my die krag om dit te doen volgens u wil en in navolging van u selfopoffering. Amen.