Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wat is versoeking?

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (Gal 5:22-25).

“En laat ons nie in die versoeking kom nie …”

Vandag assosieer ons die woord versoeking met iets wat ons verlei, bekoor, uitlok, en so meer. Ook met dié soort versoekings waarna Paulus verwys en “werke van die vlees” noem: afgodery, selfsug, woedebuie, toordery, sedeloosheid (Gal 5:19-21). In die Ou Testament dui versoeking op ’n saak wat die gehalte van iets of iemand se karakter aan die lig bring (1 Sam 17:39; Job 9:23-24). Die vermoë om ’n versoeking te weerstaan, weerspieël iemand se integriteit; dit is die toetssteen van iemand se belydenis.

Die bede om nie in die versoeking te kom nie kry dus ’n diep persoonlike karakter vir die bidder. Gestel iemand voel hulle is geregtig daarop om die reg in eie hande te neem as gevolg van iets wat met hulle gebeur het. Hulle besluit egter om te bid “en laat ons nie in die versoeking kom nie”, en bid só dat God se wil op aarde sal geskied, net soos in die hemel. Die wonder wat gebeur, is dat die eerste inbreek van die koninkryk in die bidders se lewe gebeur. Die versoeking om die reg in eie hande te neem, word weerstaan. En wanneer hierdie eerste strale van God se hemel op aarde deurbreek, skep gelowiges moed om te wag dat God se wil volledig sal deurbreek. Versoekings is toetse, maar nie om iemand uit te vang nie. Dit word die toets vir ons getroue uitleef van die kode van God se huisgesin.

Die bede “en laat ons nie in die versoeking kom nie” is soos die rimpels wat veroorsaak word deur ’n klippie in die water te gooi. Die aanvanklike betekenis kring al wyer uit. Veel meer as ’n bede om nie die reg in eie hande te neem nie, word dit ’n bede om volgens die kode van God se huishouding te leef. Só word die lewe van gelowiges ’n stukkie van God se wil wat op aarde inbreek.

Hierdie bede gaan ten diepste oor ’n gesindheid wat lynreg teen die lewensreëls van God se nuwe huishouding sal indruis. Paulus stel byvoorbeeld die werke van die ou mens teenoor die werke van iemand wat onder die beheer van die Gees van God staan (Gal 5:22-23). Hulle vroeëre lewe gekenmerk deur talle versoekings, maak plek vir hulle nuwe lewe gekenmerk deur liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Hemelse Vader, gee my die krag om alle versoeking te weerstaan sodat dit die toetssteen sal word wat my integriteit bewys. Ek wil altyd leef volgens die vrug van u Gees – die kode van my nuwe familie. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.