Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Uitverkoop aan afgode?

Van die hout wat oorbly, maak hy ’n god, ’n beeld, hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!” Sulke mense weet nie wat hulle doen nie, hulle het nie insig nie, hulle oë is toegepleister, hulle sien nie, niks dring tot hulle verstand deur nie. Hulle kom nie tot besinning nie (Jes 44:16-17).

Wanneer ons by iemand in die skuld is, is ons in sekere sin “uitgelewer” aan die krediteur. Ons gee ’n deel van ons mag en menswaardigheid aan die krediteur af. Ons is gevolglik “minder” as wat God ons gemaak het, en die krediteur is “meer”. Dit is dieselfde beeld wat in die Ou Testament vir afgode en afgodsdiens gebruik word.

Wanneer mense afgode maak en aanbid, gee hulle ’n deel van hulle krag, hulle geskape menswaardigheid en hulle Godgegewe identiteit aan die afgod oor. Die gevolg is dat die afgod – wat ’n dooie voorwerp is – krag en mag ontvang om oor die mens – God se skepsel – beheer uit te oefen. Iets wat ondenkbaar is, word ’n werklikheid elke keer wanneer mense afgode maak en aanbid.

Jesaja 44 is ʼn kostelike parodie op afgode en afgodsdiens. Deur afgode te maak en te aanbid, gee mense iets van hulleself prys, en ontvang in ruil daarvoor ’n afgod-baas aan wie hulle dooie afgodsdiens verskuldig is.

Hierby moet ons ook onthou dat, volgens die Ou Testamentiese verstaan, sonde by afgodsdiens begin. Die lewensreëls wat God in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 gegee het, begin immers soos volg: “Ek is die Here jou God … jy mag naas My geen ander gode hê nie.”

Wanneer ons die Bybel lees, ontdek ons ’n redelik eenvoudige definisie vir sonde en sondeskuld: Sonde begin wanneer ons die identiteit wat God aan ons gegee het toe Hy ons geskep het, verpand aan nuttelose en magtelose afgode, of wanneer ons só optree dat ons ons Godgegewe doel misloop.

Laat ons dan bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat ons nie in die versoeking kom om ons Godgegewe menswaardigheid en identiteit aan blinde en dowe en lewelose afgode te verpand nie.”

Hemelse Vader, ek is jammer dat ek soms myself minder maak as wat U my geskep het omdat ek my identiteit verpand en my onderdanig stel aan afgode. Ek wil net vir U dien. Dankie dat U my gemaak het. Help my om my skeppingsdoel ten volle uit te leef. Dankie dat U my nooit sal verlaat nie. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.