Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Jesus se agenda

Hy [Jesus] het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:16-21).

Met watter agenda het Jesus aarde toe?

Wanneer ons oor Jesus se “agenda” praat, hang dit baie nou saam met ons persoonlike verstaan van die evangelie. Vir baie mense is die Goeie Nuus van Jesus ’n baie persoonlike saak wat hulle lei tot bekering en geloofsekerheid. Hierdie verstaan van die evangelie is egter ’n baie eng manier van dink en praat oor die koms en bediening van Jesus Christus. Om die waarheid te sê, daar is min getuienis in die vier Evangelies – Matteus, Markus, Lukas en Johannes – om so ’n individualistiese verstaan van die koms van Jesus te bewys.

Gedeeltes soos Markus 1, Lukas 4 en Johannes 3, om maar net drie van baie te noem, maak ons bewus van die wêreldwye of kosmiese karakter van die evangelie van Jesus Christus. God het die wêreld so liefgehad, sê Johannes 3:16, dat Hy vir Jesus na ons toe gestuur het. En volgens Lukas 4 het Jesus self sy koms verstaan as ’n aankondiging van die jubeljaar van God. Daarom kon Jesus klinkklaar in Markus 1:15 (en elders) verklaar: “Verander van rigting, want God se nuwe wêreld is hier!”

Jesus Christus se evangelie is nie net Goeie Nuus vir individue nie, maar vir die hele wêreld. Laat ons dit dan nooit vir onsself hou nie, maar tydig en ontydig verkondig.

Dankie, Here, dat U so baie vir die wêreld omgee dat U u hande kom “vuil” maak het in die stof van die aarde. Bewaar my daarvan om te dink dat die evangelie en my geloof net oor my gaan. Laat dit sigbaar word in my lewenswandel sodat ek ’n instrument in u “agenda” kan wees. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.