Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Weerstand teen versoekings

Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus (Rom 6:7-11).

Soos hare en naels teruggroei nadat dit geknip is, groei versoekings terug, ook in die lewe van God se kinders. Daar is min of meer drie soorte versoekings:

  • Daar is versoekings van binne. Hierdie versoekings ontkiem, volgens Jakobus (1:14-15), in die hart van die mens. Paulus verwys daarna as die ou, sondige mens met al die eienskappe wat ons soos klere moet “uittrek”.
  • Dan is daar ook versoekings van buite. Die omgewing waarin ons leef, werk en ontspan, kan ’n teelaarde vir versoekings wees. Martin Luther het verwys na versoekings van links en van regs. Versoekings van links kom wanneer jy voel jy word te na gekom. Jy kry swaar of is ongelukkig in jou verhouding, en jy is in die versoeking om aan God se goedheid en sorg te twyfel. Die versoeking van regs kom wanneer dit so goed met jou gaan dat jy glo jy is geregtig op sukses, voorspoed, gesondheid, geluk, ensovoorts.
  • Laastens is daar versoekings van onder, van die duiwel. 1 Petrus 5:8 waarsku ons dat die duiwel soos ’n brullende leeu op soek is na sy prooi. Versoekings kom dikwels juis oor die pad van toegewyde gelowiges.

Voer ons dan ’n verlore stryd teen versoekings? Allermins! Die oorwinning wat Jesus Christus namens ons behaal het, hou lewensbelangrike implikasies vir ons in. Die duiwel is reeds verslaan. Christus het die duiwel ’n uitklophou toegedien.

Terwyl ons dan bid “en laat kom ons nie in die versoeking nie”, kan ons onthou en glo dat die oorwinning van Bo triomfeer oor die versoekings van binne, van buite en van onder. Hierdie seënbede van die vroeë kerk beskryf die werklikheid van ons oorwinning treffend:

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.
Die Here is agter jou om die Bose te verslaan.
Die hand van die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.
Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.