Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die derde opsie

“As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie. Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt 5:39-45).

Naas die mense in Jesus se leeftyd wat gewelddadig wou optree, was daar ook dié wat doodgelukkig was om alles net te aanvaar. Hulle het hulleself as ongelukkige slagoffers beskou en op ’n teenoorgestelde manier geleef. Alles wat gebeur, is God se wil. Daarom moes hulle dit passief aanvaar.

Ons sien vandag nog talle voorbeelde hiervan, selfs in ons kerke. Alles wat gebeur, is God se wil en deel van sy voorsienigheid. Ons durf nie vrae vra of iets bevraagteken nie.

Jesus het egter vir ons ’n derde leefwyse gewys. Volgens hierdie derde weg is dit nie die regte keuse om die reg in eie hande neem óf passief en gelate alles te aanvaar nie. Dit is nie die koninkryk se manier nie. Jesus se derde pad bestaan uit ’n benadering wat die magte en ongeregtigheid ontmasker. Die heel bekendste voorbeelde kry ons in vandag se Bybelverse.

Wanneer ons bid: “En laat ons nie in versoeking kom nie”, bid ons saam met Jesus se ander volgelinge dat ons getrou aan sy woord en daad sal bly. Dat ons sy voorbeeld sal volg. Maar hoe bly ons staande in ’n stukkende wêreld? Helmut Thielicke stel voor ons hou die aard van versoekings in gedagte. Volgens hom is versoekings maniere wat vir ons aangebied word om van God losgeruk te word. Terwyl die Verbondsgod belowe het dat Hy ons God sal wees, bied versoekings hulle aan as alternatiewe vir God se sorg.

Vroeër in die Ons Vader het ons gebid: “Laat u wil geskied.” Versoekings wil vir ons die kans gee om óns wil te laat geskied. Ten diepste is versoekings dus toetse vir ons karakter as volgelinge van Jesus Christus.

Hoe lyk ons karakter vandag wanneer ander mense na ons kyk?

Here, dankie dat U die ander wang gedraai en vir my aan die kruis gesterf het, eerder as om terug te baklei teen dié wat U vermoor het. Help my om die tweede myl te stap en die ander wang te draai sodat ek, soos U, op die derde pad die onreg te ontbloot, eerder as om in die versoeking te verval om my wil te laat geskied. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.