Boodskap vir Vandag

Search

’n Gemeenskap wat oorwinning lééf

Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God (Ef 6:10-17).

CS Lewis, die bekende Britse skrywer, skryf in Screwtape Letters dat ons een van twee groot foute kan maak wanneer ons oor die Bose dink.

Die eerste denkfout is om te min van die Bose te maak, en die tweede is om te veel van die Bose te maak.

Alhoewel Lewis hierdie gedagte baie jare gelede, in 1942, neergepen het, is die waarheid daarvan vandag net so geldig soos toe. Aan die een kant van die spektrum vind ons talle gelowiges wat aktief oor die Bose besin en die Bose die stryd aansê. Aan die ander kant is daar gelowiges van die bestaan van die Bose heeltemal ontken.

Dit sou nogal baie gehelp het as daar nie ’n Bose was nie. George Bush en Tony Blair het byvoorbeeld ná die gebeure van 9/11 te kenne gegee dat ’n paar bomme op strategiese plekke die sogenaamde “axis of evil” sou vernietig en die vrede op aarde sou herstel. Wanneer ’n mens nou terugkyk, wil jy lag en huil as jy dink hoe ver hulle die punt gemis het.

Dit is vanselfsprekend dat ’n mens se siening van die Bose ’n bepalende invloed op jou begrip van die bede “maar verlos ons van die Bose” in die Ons Vader-gebed sal hê. Hier moet ons egter katvoet beweeg, want ons moet op God fokus, nie op die Bose nie. Tog is daar ook baie getuienis in die Nuwe Testament dat ons van die Bose bewus moet bly.

In die woorde van 1 Petrus 5:8 is die duiwel ’n brullende leeu wat rondloop op soek na sy prooi wat hy kan verslind. Maar, wanneer ons God se wapenrusting aantrek, soos Paulus dit in Efesiërs 6 vir ons beskryf, hoef ons die Bose nie te vrees nie. Dan kan ons onbesorg leef, soos Filippense 4 sê, en ons gedagtes rig op dít wat goed is.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder … alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En God wat vrede gee, sal by julle wees” (Fil 4:5-9).

Hemelse Vader, dankie dat U vir ons u wapenrusting gee sodat ons sonder vrees kan leef. Help my om inskiklik te leef teenoor alle mense, om altyd bly en dankbaar te wees sonder bekommernisse, omdat ek weet U het reeds die oorwinning behaal. Amen.

Koop ’n Koffie

Ondersteun Christelike inisiatiewe teen die prys van ’n koppie koffie

Maak ’n Dankoffer

Deel jou dankbaarheid deur ’n dankoffer

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap elke dag

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

Bybels vir Almal

Help om God se Woord in elke huis te bring

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.