Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar” (Op 21:1-5).
Epikurus, ’n Griekse filosoof (341-270 vC), het ’n vraag gevra waaroor mense nou nog besin.
Volgens Epikurus het die gode die aarde en mense geskep, en toe besig geraak met belangriker sake as die skepping. Die skepping is aan sy eie lot oorgelaat, amper soos ’n horlosie wat opgewen is en dan self afloop. Maar elke nou en dan kom die gode en krap dinge op aarde deurmekaar, net om te sien hoe die mense daarop reageer. Op ’n siek manier meng die gode in, net om die pret en geluk van die mense te bederf. Aldus Epikurus.
Epikurus het die goedheid van die gode bevraagteken op grond van die bestaan van die bose. Vreemd dat sy vraag so ’n moderne klank het! So dikwels vra mense vandag: Hoe kan God liefdevol, goed, alomteenwoordig en almagtig wees as daar soveel boosheid en pyn in die wêreld is?
Vir talle gelowiges is die hoogste ideaal om van hierdie wêreld te ontsnap en hemel toe te gaan. Hulle sien die wêreld as ’n bose plek waaruit hulle moet wegkom. Gevolglik hou hierdie gelowiges hulle nie op met die wêreld nie.
Teenoor die denkrigting wat leer dat God nie in sy skepping belangstel nie, leer die Bybel en die lewe van Jesus Christus ons dat God júis betrokke is by sy skepping en getrou bly aan sy handewerk. Jesus Christus se koms na ons toe is die grootste bewys van God se troue sorg vir ons en sy betrokkenheid by ons. Lees weer Johannes 3:16-17.
Lees ook Openbaring 21 en 22. God sal eendag alles herskep en ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde vorm. En ons sal op hierdie nuwe aarde woon langs die lewende water wat redding en genesing vir die nasies bring.
Almagtige Skepper, dankie dat U ons nie gemaak en laat staan het nie, maar ingegryp het in die geskiedenis van die wêreld deur u Seun te stuur om ons te verlos. Dankie dat U my met ’n vrye wil geskep het en help my om dit te gebruik tot eer van u Naam. Amen.