Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Jesus se oorwinning oor die Bose

Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol 2:11-15).

Die Ons Vader-gebed vorm deel van Jesus se bedieningswerk. Dit vertel ons iets oor sy bediening, ’n bediening wat ons as sy volgelinge moet opneem in ons navolging van Hom.

Wanneer Jesus ons dan leer bid “maar verlos ons van die Bose”, sit ons regop. Ons onthou dat Hy self telkens met die Bose slaags geraak het. Ons dink aan sy versoeking in die woestyn, aan die bose geeste wat Hy uit mense gedryf het, aan een van sy volgelinge, Judas, wat Hom verraai het, en aan ’n ander volgeling, Petrus, wat Jesus van koers af wou probeer dwing.

Wat egter van groter belang is, is om te onthou hoe Jesus die Bose oorwin het, in die woestyn, deur die bose geeste uit te dryf én aan die kruis. In die taal van Paulus in Romeine 6 en Kolossense 2 het Jesus al die bose magte ontwapen en verslaan. Volgens die boodskap van die Nuwe Testament is die Bose ’n dodelike nekslag toegedien met die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.

Al is die Bose verslaan, is hy egter steeds ’n dodelike vyand, ’n gevaar om mee rekening te hou. Tog kan ons as gelowiges kies om óf op die swaar verwonde Bose te fokus óf op die Een wat die Bose reeds oorwin het. Die boodskap van die Nuwe Testament is duidelik: Hou jou oë gerig op die Een wat die oorwinning behaal het. Bly waaksaam. Bid en waak. Maar leef vanuit die oorwinning wat Jesus Christus behaal het.

Here Jesus, dankie dat U u lewe gegee het om my te red. Dankie dat ek deur u oorwinning sonder vrees kan leef, want U het die Bose ontwapen. Help my om elke dag in u oorwinning te leef en deur my woorde en dade die koms van u koninkryk sigbaar te maak. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.