“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Joh 18:36).
Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.” … Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem (Joh 19:12, 16).
Reeds voor Jesus se geboorte is daar vanuit Rome oor die destyds bekende wêreld geregeer. Ons sien vroeg in Lukas 2 hoe magtig en invloedryk die keiser was. Ná enkele penstrepe uit die hand van keiser Augustus het die wêreld in beweging gekom om getel te word. In Palestina, duisende kilometer van Rome af, bring dit Josef en Maria in beweging om na Betlehem te gaan.
En al het die tyd van ongeveer 27 vC tot 180 nC as die Pax Romana (Romeinse vrede) bekendgestaan het, is hierdie vrede deur tirannie bewerkstellig. Opstande is gewelddadig onderdruk. Solank jy aan die kant van die Romeine gestaan het, was daar vir jou vrede. Indien nie, was daar net onvrede.
Daar is talle voorbeelde in die Bybel waar Jesus die politieke leiers van sy leeftyd en daarmee saam die koninkryk van die wêreld die stryd aangesê het. Die styl waarin Hy dit gedoen het, was egter die teenoorgestelde van die norm van die dag. Terwyl die Romeine met brute krag hulle stempel afgedruk het, het Jesus met ’n gesindheid van liefde en aanvaarding geleef.
Vir Jesus het dit oor God se Koningskap gegaan. Terwyl die wêreldheersers hulle septers rondgeswaai het, het Jesus die boodskap van God se koninkryk vertel en geleef. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat hierdie twee “magte” teenoor mekaar te staan sou kom.
In Johannes 18 en 19 bereik hierdie stryd ’n hoogtepunt wanneer Jesus en Pilatus – albei leiersfigure wat die onderskeie ryke verteenwoordig – voor mekaar te staan kom.
Op die oog af lyk dit asof die Romeinse Ryk die laaste sê gehad het. Jesus word gekruisig. Maar sy kruisiging was nie die laaste woord nie. Jesus het enduit getrou aan sy Vader se koninkryk opgetree. Enduit het Hy met die beginsels van vergifnis, liefde en genade die Romeinse Ryk se onverbiddelikheid, haat, geweld en gebrek aan genade uitgewys. Jesus se opstanding uit die dood was die finale Goddelike bevestiging dat wat Jesus gesê en gedoen het reg was in God se oë.
Jesus het goeie nuus aan die armes gebring, bevryding vir die gevangenes aangekondig, vryheid vir die onderdruktes gebied en blindes laat sien. Tekens van God se goedheid en hoe anders sy koninkryk werk.
Waarlik, God is Koning! En Jesus het nie geskroom om dit te verkondig nie.
Here, dankie dat u koninkryk soveel anders is as die koninkryke van die wêreld. Help my om, soos U, die magsug, geweld en uitbuiting van wêreldse koninkryke teen te staan met u lewensbeginsels van liefde, vrede, genade en vergifnis. Amen.