Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon (Ef 4:1-6).
Ons moet Jesus se voorbeeld van onverdeelde lojaliteit aan God en sy koninkryk volg. En in hierdie navolging van Jesus behoort ons roeping ons in stryd met die koninkryke van ons leefwêreld te bring.
Wanneer ons dan bid: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid,” is dit baie meer as net ’n slot vir die Ons Vader-gebed. Dit is in werklikheid die kern van ons gebed: God is die enigste Koning en Here, en al die eer en lof behoort aan Hom alleen.
Dit is duidelik in die Ou en die Nuwe Testament dat lof van die vroegste tye af ’n integrale deel van gelowiges se lewe uitmaak. As koninklike priesters (1 Pet 2:5) staan ons enersyds voor God, maar andersyds ook midde-in die nood van die wêreld wanneer ons die Ons Vader-gebed met hierdie woorde afsluit. Hierdie die doksologie word meer as ’n lofbetuiging. Dit word ’n geloofsbelydenis teenoor die wêreld.
Met die woorde van hierdie doksologie proklameer ons die koninkryk van God in navolging van Jesus. Ons vrymoedige lof aan God is gewortel in die sorg en trou van die God wie se lof ons besing: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
U is wonderlik Here, en aan U kom al die lof en dank toe. Dankie, Here, dat U my geroep het om as priester vir U te leef en in te tree vir my medemens. Help my sodat my lewenswandel hierdie roeping sal weerspieël, veral in die manier hoe ek ander mense behandel: vriendelik, geduldig, verdraagsaam, vredevol en liefdevol. Amen.