Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen (1 Pet 5:9-11).
Leonard Sweet skryf in The Gospel according to Starbucks oor die lesse wat ons by dié kleinhandelreus oor die wêreld kan leer, en hoe ons die evangelie daarin kan laat grondvat. Hy gebruik twee Italiaanse woorde, spizzerinctum en sprezzatura, om die gesindheid te beskryf waarmee ons in die wêreld behoort te leef. Spizzerinctum kan vertaal word met “heilige vrymoedigheid”, en sprezzatura as “sorgelose gemaklikheid”. Ek dink hierdie twee woorde is net so geskik om ons gebedsgesindheid te beskryf.
Die rede lê in die lofuitspraak waarmee ons die Ons Vader afsluit: “Aan U behoort die koninkryk en die mag en die majesteit tot in ewigheid. Amen.” Nadat die voorafgaande bedes gefokus het op die broodnodige om te eet, die behoefte dat ons skuld afgeskryf sal word en die versoekings van die Bose, neem hierdie lofuitspraak ons terug na die hart en wese van die Vader met wie ons in die eerste deel van die gebed praat. Dit is juis omdat Jesus ons só leer bid het dat ons met ’n heilige vrymoedigheid en ’n sorgelose gemaklikheid tydig en ontydig hierdie gebed kan bid.
As God se mense, as lede van sy nuwe huisgesin, help hierdie lofbetuiging ons ook om in die toekoms in te kyk. In die Bybel word gelowiges dikwels teruggeneem in die geskiedenis om herinner te word aan die getrouheid van die Skepper-God. So het die Here aan Jakob verskyn en Homself aan Jakob voorgestel as die God van sy pa en sy oupa. Omdat Jakob geweet het God was aan sy voorouers getrou, kon hy met heilige vrymoedigheid en sorgelose gemaklikheid weet dat God ook aan hom getrou sou wees.
En daarom kan ook ons met heilige vrymoedigheid en sorgelose gemaklikheid na die toekoms kyk, en ons kan glo en weet dat die Here ons God aan ons getrou sal wees. Nou en tot in ewigheid. Daarom kan ons ook moed hou. Jesus self het ons verseker: “In die wêreld sal julle die moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33).
Hemelse Vader, dankie dat ek met heilige vrymoedigheid en sorgelose gemaklikheid tot U kan bid. U was nog altyd getrou en ek weet dat U ook in die toekoms getrou sal wees. Daarom kan ek moed hou. U het klaar oorwin en U sal my nooit in die steek laat nie. Amen.