Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Binne die stroom van die triomf

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood (1 Kor 15:20).

Sonder Jesus se opstanding sou die hoop op die opstanding ’n illusie wees. Tussen sy opstanding en ons s’n is daar ’n onverbreekbare band. Paulus sê triomfantlik: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor 15:20-22).

Kan ons hierdie verbondenheid met ’n beeld probeer uitdruk? Dié wat weet, sê daar kan op die spoor van ’n vuurpyl ’n kragveld geskep word, ’n vakuum, wat alles daarin meesleur. Dit is die suigkrag van die vuurpyl se blitsige vaart. As iemand hierin sou beland, sou hulle beslis die kragstroom ervaar, beslis meegesleur word. Die opstanding van Jesus het, met eerbied gesê, so ’n suigkrag van oorwinning, so ’n stroom van triomf vir ons geskep. Hy is die voorste, die eersteling uit die graf. Hy klief die dood oop, bars deur die graf! En slegs deur die geweldige kragstroom kan ons Hom in ons eie opstanding volg. Sonder Jesus is ons kragteloos, verlore … sink ons terug op die aarde, in die stof.

Dié doodse kragteloosheid sak dikwels op ons toe. Dikwels wil ons terugval, wegval uit die stroom van Jesus se triomf oor die dood. Val dan liewer in agter Jesus! Volg Hom! Bly op sy spoor! En ervaar die krag … nou en op die opstandingsdag.

Jesus, U gaan voor. Ek volg in u spoor. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.