Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Net een waarborg

Daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort (1 Kor 15:23).

In die dorpie Dossenheim in die voormalige Wes-Duitsland is daar ’n kerkhof waar talle gesneuweldes van die Tweede Wêreldoorlog begrawe lê. Op die hek wat toegang verleen tot dié deel van die begraafplaas waar die soldate begrawe is, is daar ’n sierlike boog met ’n opskrif wat lui: Sie werden alle aufstehen. Hulle sal almal opstaan. Hoe mooi en troosryk klink dit! Maar is dit sonder meer waar?

Wel, hulle sal almal opstaan. Maar nie almal sal in heerlikheid opstaan nie. Omdat dit ’n heldeakker is waar hulle begrawe lê, is die implikasie van die Duitse woorde dat die soldate wat vir hulle vaderland gesterf het in heerlikheid sal opstaan. Maar dit sal nie noodwendig gebeur nie. Waarom nie? Omdat jou verbondenheid aan ’n volk, die oorgawe van jouself aan ’n ideaal, selfs ’n heldedood, nie die opstanding waarborg nie.

Niks wat uit of vir mense is, kan dit moontlik maak nie. Hieroor is die Skrif baie duidelik. Alleen dié wat in Christus sterf, sal in Christus opstaan. Paulus sê: “Daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort” (1 Kor 15:23). Alleen dié wat aan Christus en deur Hom aan die volk van God behoort, sal die heerlikheid smaak.

Natuurlik sluit dit ook gelowige soldate in. En alle ander mense wat in Christus sterf. Sal jy so opstaan?

Here Jesus, U is my heerlikheid. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.