“Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan” (Luk 24:46).
Die gedagte aan die dood plaas die meeste mense in ’n morbiede stemming. Om daaraan te ontkom, verkies sommige om liewer skertsend, amper spottend oor die dood te praat. Soos die digter Ronnie Belcher wat die dood ’n “one man show” noem.
’n “One man show”. Jy glimlag, maar jy weet: Dit is waar. ’n Begrafnis is eintlik ’n eenmansvertoning met die gestorwene as “hoofkarakter”. Dit is ’n eensame rol, want in die dood kan jy niks of niemand met jou saamneem nie. Al jou aardse sekerhede en bande val weg. Die dinge wat jou in hierdie lewe vertroos het, sterk gemaak het, vreugde gegee het, gaan nie met jou saam in die graf nie. Dis net jy … en die dood.
Ja, maar … vir ons as gelowiges is dit gelukkig nie die laaste woord nie. Want ons het Een wat ons aan hierdie kant én anderkant die graf sterk maak en vertroos en met vreugde vul. Hy is ons enigste troos in lewe en in sterwe. Sy Naam is Jesus. Hy is ons getroue Verlosser.
Iemand wat hierdie Verlosser geken het, was die Nederlandse teoloog Bavinck. Op sy sterfbed het hy, ná ’n lewe vol prestasies, gesê: “Nou is dit net ek … en Jesus.”
Ja, vir die gelowige is die dood nie ’n eensame “one man show” nie. Daar is ’n ander Man by ons, Jesus. En Hy is sterker as die dood. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan (Luk 24:46). Daarom sal Hy ons ook uit die graf laat opstaan.
Jesus, U het die eensaamste plek, die graf, omskep in die beginpunt van nuwe gemeenskap met U. Ek dank U. Amen.
Johan Cilliers