Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God se gemiddelde is heerlikheid

Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo (2 Tess 1:10).

Wat is die mens werd? Hierdie vraag kan ook op ’n derde manier beantwoord word. Jy kan reken dat jou lewenswaarde direk verband hou met jou prestasies, met dit wat jy bereik het. Dan reken jy: Hoe langer en meer indrukwekkend jou CV, hoe waardevoller is jy, hoe groter gewig dra jou lewe. Of andersom: Hoe korter jou CV, hoe kleiner die impak wat jy op die lewe en op die mense rondom jou het, hoe geringer jou waarde …

’n Mens kan sekerlik niks teen prestasies en ’n indrukwekkende CV sê nie. Maar God oordeel anders oor ons lewe. Luther en Calvyn is vir Hom nie belangriker as Jan of San Christen nie. God het nie witbroodjies nie. Niemand sal eendag in groter heerlikheid as ander opstaan nie. God wek ons almal op tot presies dieselfde heerlikheid. Ek sê “almal”, maar bedoel natuurlik dié wat glo, dié wat in Christus sterf. Dit is die deurslaggewende. “Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo” (2 Tess 1:10). Dit gaan dus nie net om ons heerlikheid nie, maar veral om God se eer en verheerliking op die opstandingsdag.

Wanneer ons dan bely dat ons in die “opstanding van die vlees” glo, roep hierdie belydenis ons ook op tot geloof in Hom vir wie ons sal verheerlik en wat ons in heerlikheid sal opwek. Al voel jy soos ’n vaal muis of ’n niksseggende gemiddelde …

Here, dankie dat ek vir U soos die belangrikste mens op aarde is. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.